Luister Meer As Wat Jy Praat

– deur Ella Kritzinger

“… laat die wyse luister, dan sal hy insig vermeerder, en die verstandige sal verstandige gedagtes verkry.” – Spreuke 1:5

Liewe vriendin, is jy ’n luisteraar of prater? Die woord “luister” en sinonieme daarvan kom baie in die Bybel voor, veral in Spreuke. Die feit dat ’n mens twee ore en net een mond het, laat jou nadink. Die meeste van die tyd hoor ons net ons eie gedagtes en luister nie regtig wat ander sê nie. Gewoonlik luister ons met die voorneme om terug te antwoord in plaas daarvan om te verstaan. As ouers is ons soms geneig om ons kinders dood te praat/preek en só het ons slegte luisteraars geword. Om te luister, is die geheim om interessante stories te ontdek, jou kennis te verbreed en iets nuuts te leer, respek te hê vir ander, ruimte te skep vir groei en genesing. Dit is ’n waardevolle instrument wat beslis minder riskant is as praat. Dit verg slegs ’n bietjie omgee, geduld en opregte belangstelling. As gesin het ons gereeld ’n praat-jou-hart-uit-sessie gehou. 

Ons het ’n naambordjie gemaak met die woorde “luister” aan die een kant en “praat” aan die ander kant. Hierdie sessies het by die eetkamertafel geskied waar elkeen drie minute gekry het om sy sê te sê in ’n veilige forum waar niemand jou in die rede kon val, kritiseer, korrigeer, aanval, verwyt of raadgee nie. Die persoon aan die praatkant van die naambordjie kon met vrymoedigheid sy / haar hart deel en die een aan die luisterkant moes stilbly. Hierdie sessies het wondere vir ons gesinsverhoudinge gedoen en ons nader aan mekaar gebring. Dit het ons gedwing om mekaar se harte te hoor in plaas van om probleme te wil oplos en ’n antwoord vir alles te hê. Die meeste van die tyd soek ’n mens net ’n oor wat sal luister en ’n hart wat omgee. Maak werk daarvan om met meer aandag na ander te luister. Dit mag dalk net nuwe perspektief aan jou verhoudinge gee.


JUIG! Tydskrif (Julie 2018)

Return to Home