Leef Gebalanseerd

– deur Ella Kritzinger

Liewe vriendin, die jaar het skaars begin en almal jaag reeds om hul doelwitte te bereik. Daar is altyd seisoene en getye, en ongeag hoe hard ’n mens probeer, kan jy nie altyd die pas volhou nie. Om ’n gebalanseerde lewe te lei, is ’n uitdaging. Verandering is nodig vir groei, maar gejaagdheid veroorsaak dat ons foute begaan, veral as ons op ons eie insig, vermoëns en krag staatmaak. Ek glo daaraan om hard te werk, maar om terselfdertyd ook die lig te wees en uit te leef. Dis soms die eenvoudige dinge in die lewe wat my help om balans te behou: Stel vir jou haalbare doelwitte sodat jy die eindstreep in sig kan hou, meet jou vordering langs die pad en hou jou motiewe gedurig in gedagte. Is die dinge waarmee jy jou besig hou ’n God-idee of ’n goeie idee? Wees meer buigsaam en pak een verandering op ’n slag aan.

Leef met jou oë op God gevestig eerder as op jouself en wat jy wil bereik. Beplan jou dag en week behoorlik sodat jy tyd kan maak vir die ligter dinge. Omring jouself deur positiewe mense, leer van ander. Rus genoeg sodat jy beter toegerus is om lewegewende geleenthede te skep. Offer tyd op om as vrywilliger ’n verskil in jou gemeenskap te maak; bring hoop, vrede en bemoediging aan ander. Doen nie net dinge wat vir jou lekker is nie, maar ook wat vir jou goed is. Wag op die Here, veral wanneer jy groot besluite neem. Gaan stap en deel jou gedagtes met God. Die lewe is ’n marathon en soms moet jy asem skep, water drink en jou spiere strek om gebalanseerd te leef.


JUIG! Tydskrif (Februarie 2018)

Return to Home