Krygsvrou, Jy Is Meer As ’n Oorwinnaar!

– deur Ilse Kleyn

“Hy oefen my hande vir die geveg, my arms om ’n bronsboog te trek…” Ps 18:35

Verlede jaar was moeilik. ’n Jaar van vele ‘aanvalle’ en beproewings. Vir my was dit geweldig uitdagend. Oral hoor ek egter dat 2017 ’n jaar van groot oorwinning en deurbrake gaan wees. Indien 2016 die jaar van voorbereiding was (‘bootcamp’), is 2017 die jaar van oorwinning en geleenthede tot jou skeppingsdoel, gebore uit jou intimiteit met die Vader.

Dit beteken egter nie dat die aanvalle of oorlogs-krete van die ander kamp gaan staak nie. In teendeel, dit gaan toeneem. Dit skep ruimte vir groot oorwinnings om deur te breek. 

Abba verwag van ons om met wysheid fyn te luister na ons Bevelvoerder se opdragte op die oorlogsveld. Dit bly ’n oorlog. Die vyand wil jou weerhou van jou skeppingsdoel en tyd saam met jou Aanvoerder. ’n Soldaat sonder visie en kommunikasie met die operasionele beheerkamer (‘opskamer’ is van geen nut nie.

Die beloftes van ons Eerste Offisier is soos volg:
“Kyk, Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie.” Luk 10:19. “Hy oefen my hande vir die geveg, my arms om ’n bronsboog te trek. U redding is vir my ’n skild. U regterhand ondersteun my; U hulp maak my sterk. Die pad onder my maak U breed, en my enkels swig nie. U het my met krag toegerus vir die stryd, en my teenstanders aan my onderwerp.” Ps 18: 35-37,40. “En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie.” Op 12:11.

Staan vas, vriendin, tel jou Swaard op. Jy is meer as ’n oorwinnaar!


JUIG! Tydskrif (April 2017)

Return to Home