Kroon Van Transformasie

– deur Ilse Kleyn

“Word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie…” Romeine 12:2

Verlede jaar het ons die galery se vloer geverf. Ons almal het krone geverf en elkeen het sy unieke kroon voor Abba neergelê. Ons het net lekker gespeel en verskeie krone op die vloer geverf. Sonder om werklik daaroor te dink, het ek skoenlappers geverf. Daardie week kry ek twee hangertjies persent, een was ’n kroontjie en die ander ’n skoenlapper. Later lees ek ’n artikel oor skoenlappers se metamorfose en ek snap: Abba wil iets vir my sê.

Ons moet ook deur ’n transformasieproses gaan – ’n metamorfose. Voorheen was ons slawe van die sonde – wurms. Toe moes ons sterf in die kokon. Daar binne die kokon in die donker waar niemand kan sien nie, het Abba ons as ’n nuwe lewende wese kom herskep – as skoenlappers. Hierdie nuutgeskape skoenlappers moet leer om te vlieg en as skoenlappers te leef. Maar hoe? 

Romeine 12:2: “En word nie aan hierdie wêreld gelyk-vormig nie, maar word verander deur die vernuwing
van julle gemoed (denkpatrone)…” Ek moet my denkpatrone verander en die enigste manier om dit te doen, is om Sy heerlikheid elke dag te aanskou – Sy Woord.

2 Korintiërs 3:18: “En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ’n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.”

Al Sy kinders dra die kroon van transformasie wat Hy in ons begin het, maar liewe vriendin, ons kan hierdie kroon se uitwerking groter maak deur ons gedagtes te rig op dinge daar bo eerder as die koninkryk hier onder.


JUIG! Tydskrif (Feb/Maart 2017)

Return to Home