Hy Maak Alles Nuut

– by Charmaine Boshoff

“En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut.” – Openbaring 21:5

Bruin gebrand, uitgerus en reg vir die nuwe jaar. Ek is seker dat jy teen hierdie tyd ’n joernaal vol geskryf het met jou goeie voornemens vir 2017. Hoe dan nou anders? Dit is per slot van sake ’n nuwe jaar met nuwe vooruitsigte en om só te beplan aan ’n beter, nuwer jý, is die logiese stap. Volgens Forbes.com hou slegs 8% van die samelewing by Nuwejaarsvoornemens. Die druk wat noodgedwonge met die skool, werk, kerk en persoonlike uitdagings gepaardgaan, is gewoonlik die stok in die wiel.

Die probleem lê nie by die voornemens wat by die agterdeur uitwaai nie, maar by die emosies wat by die voordeur inwaai. Emosies soos teleurstelling, vrees, ontnugtering, frustrasie en woede is ’n paar wat kop uitsteek. Voor jy jou oë uitvee, het die jaar weer verbygevlieg en trek jy die joernaal weer nader om neer te skryf wat jy hoop om in die ‘nuwe’ nuwejaar te verander. Hierdie verskynsel wat ek die ‘voornemekringloop’ noem, is toksies vir jou selfbeeld en ’n resep om jou op ‘moed-verloor-se-vlakte’ te kry. Moet egter nie moed verloor nie, want jy is ’n kind van die Allerhoogste God. Hy is jou bron van krag en Hy is gister, vandag en tot in alle ewigheid dieselfde. Dit is waarom Prediker in hoofstuk 1:9 sê daar is niks nuut onder die son nie. Die enigste Een wat nuut kan maak, is die Skepper!

Wanneer Hy jou bron van krag is, sal jy kan vermag wat jy jouself vooropgestel het om te doen. Wees dus genadig met jouself in hierdie nuwe jaar, al bly jou voornemens in die slag. Wanneer jy jou lysie nadertrek en teleurstelling jou wil-wil oorval, maak jou oë toe, gee dit vir God en rus in die wete…Hy maak Alles Nuut (Openbaring 21).


JUIG! Tydskrif (Januarie 2017)

Return to Home