Hy Brul Oor Jou

– by Ilse Kleyn

“Moenie huil nie. Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal…” Openbaring 5:5

Die hele wêreld vier eersdaags Kersfees en dit is hartseer hoe dit ’n malle fokus op onder meer geskenke, partytjies en kostafels is. In die agtergrond word Kersliedjies gespeel en in die hoek staan ’n Kersboom met ’n krippie en ’n babapop wat Jesus voorstel – net sodat ons nie moet vergeet waaroor dit werklik gaan nie.

Dit laat my dink – hoekom vier ons nie Sy geboorte soos Wat en Wie Hy nóú is nie? Hy is nie meer die babatjie in die krip nie. Ek grawe nie babafoto’s uit as ek verjaar nie. 

Hoe lyk Christus nou? Het jy al werklik daaroor gedink? Die Woord sê Hy is die Leeu van Juda. Hy is majestueus – Hy het vuur in Sy oë en ’n swaard in Sy mond. (Openbaring 1:13-15, 5:5) Alle gesag, mag en krag behoort aan Hom. As ek saam met Hom loop, kan niks en geen vyand staande bly nie. Ons moet hiérdie Jesus vier!

Die opgestane Here. As Hy brul, vlug die vyand in sewe rigtings!

Hierdie komende seisoen wil Hy oor jou en jou omstandighede brul! Hy is die Woord en die Woord was by God en die Woord is God! Hy het die finale Woord oor jou en al jou omstandighede.

My seënbede vir jou, vriendin: Sagaria 9:11-12: “Wat jou betref, my verbond met jou is met offerbloed beseël. Daarom sal Ek jou gevangenes red uit ’n waterlose put. Keer terug na die vesting toe, gevangenes vol hoop! Ek belowe dat Ek julle dubbel sal vergoed vir al julle swaarkry.”


JUIG! Tydskrif (Desember 2016)

Return to Home