Hou Jou Oë Op Jesus Gerig

– by Ilse Kleyn

“As jy moeg raak om teen mense te hardloop, hoe sal jy ooit teen perde kan meeding?” – Jeremia 12:5

’n Vriendin vertel my onlangs van ’n Bybelstudiegroep wat sy by ’n naburige kerk bygewoon het. Om die een of ander rede het hulle oor my begin gesels en die leier van die groep het al die dames teen my gewaarsku en allerhande onwaarhede oor my kwytgeraak.

Dit het vreeslik seergemaak. Hierdie dames ken my nie eens nie, maar versprei gruwelike leuens oor my! Sonder dat ek bewus daarvan was, het ‘aanstoot’ sy kloue in my hart geslaan en was ek net so skuldig soos hulle. 

Gelukkig dien ons ’n geduldige Vader en het Hy ’n spieël voor my gehou en die toestand van my hart aan my geopenbaar. Die Skrifte waarmee Hy met my gepraat het, was Jeremia 12:5: “As jy moeg raak om teen mense te hardloop, hoe sal jy ooit teen perde kan meeding?” Ook Matteus 5:11: “Gelukkig is julle wanneer julle bespot en vervolg word en allerhande leuens oor julle versprei word omdat julle My dissipels is. Wees bly ja, jubel daaroor, want God sal julle ryklik daarvoor beloon. Onthou, so het hulle die profete voor julle ook vervolg.”

Ek dink dit is makliker om teenkanting van die wêreld te verduur, maar indien die aanslag vanuit die Kerk kom, maak dit baie seerder. Ek bid dat jy ook jou oë op die prys – Jesus Christus – sal hou, en nie toelaat dat die vyand jou roeping steel deur aanstoot in jou hart te laat posvat nie. Kom ons wedywer teen ‘perde’ en nie mense nie!


JUIG! Tydskrif (Junie 2017)

Return to Home