Honger En Dors Na Geregtigheid

– by  Rina Kinnear

“Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry.” 1 Petrus 2:2

Van die eerste woorde wat ek duidelik ná my beke-ring gehoor het, was: “Soek eers die koninkryk van God en Sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word,” volgens Matteus 6:33. Ek het besef hoe belangrik dit vir my is om aan die stem van die Heilige Gees gehoorsaam te wees. Toe was daar net ’n honger en dors in my na die Woord van God en om by ’n kerk aan te sluit waar ek die Heilige teenwoordigheid van die Here kon ervaar saam met mense wat die Here liefhet. 

My wêreldse vriende het begin wegval, asook die begeertes vir die genietinge wat die wêreld daar buite bied. Ek het besef wat met my begin gebeur, staan in 1 Korintiërs 5:17: Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel, die ou dinge het verbygegaan, kyk dit het alles nuut geword.”
Jesaja 55:1 sê almal wat dors het moet na die waters kom en wie nie geld het nie, moet kom, kom koop en eet. Die Here sê vir ons Hy is die Bron van die lewe. As ons eers van Hom gedrink het, sal ons nooit weer dors word nie. 1 Petrus 2:2 sê ook vir ons om soos pasgebore kindertjies na die onvervalsde melk van die Woord te smag, dat ons daardeur kan opgroei. Ek kan werklik sê, die Here is ’n waarmaker van Sy woord! Soek Sy koninkryk en Sy geregtigheid!


JUIG! Tydskrif (October 2017)

Return to Home