Het jy ook ’n dilemma met tyd?

– deur Esté Geldenhuys

Genugtig, dit voel soos gister toe ons die koms van 2017 gevier het en kyk waar staan ons nou – enkeldiep in 2018. Dis asof elke jaar teen ’n steiler afdraand afsnel, maande en jare blits al hoe vinniger verby.
Intussen het ons Vader-God met alles en met elkeen van ons ’n plan. Hy bestaan buite tyd. Om ons te help, het Hy toegelaat dat ons tyd georden word volgens horlosies en kalenders, maar eintlik was daar van die begin af net dag en nag … en seisoene. Het tyd nie dalk vir ons ’n te groot gogga geword nie? Ons kan so ylings beplan en ons tyd daarvolgens bereken, en as dinge nie uitwerk nie, raak ons skoon oorstuur! Die teenpool is dat ons Vader verder en wyer sien as wat ons ooit kan dink. Hy hét ’n plan en werk daarvolgens en as ons net nie so behep met tyd was nie, sou ons makliker by ons Vader se plan vir ons aangepas het. 

Twee dinge wat ons sal help om die tydgogga te besweer, is prioriteite en selfdissipline. Bid ons regtig oor prioriteite? Ontvang ons prioriteite van Hom af, of staan eie ambisie en druk van buite of ons eie lamsakkigheid in ons pad? Ons wéét ook waarop ons tyd mors. Die selfdissipline wat ons toepas om genoeg slaap en oefening te kry en reg te eet, sal ons gesonder hou en ons brein skerper maak. Selfdissipline om stil te raak en te bid, sal ons gees voed. Dis nooit te laat nie, bring opnuut 2018 voor ons Vader. Bid oor prioriteite. Kom ons roep ons “binne-mens” tot gehoorsaamheid aan die Gees van Christus wat in ons woon. Mag jy in elke dag van hierdie jaar jou vreugde in ons Vader, Jesus en Heilige Gees vind! Dit ís moontlik.


JUIG! Tydskrif (Februarie 2018)

Return to Home