By God Is Alles Moontlik

– deur Rina Kinnear

“Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.” – Hebreërs 11:6

Ons lewe in ’n land en ’n wêreld waar egskeiding aan die orde van die dag is. Ek wil dié wat onder verhoudingsprobleme gebuk gaan, bemoedig met bogenoemde teksvers uit Hebreërs. Ek deel my getuienis oor my eerste huwelik met julle: Ná 15 jaar in ’n huwelik vol pyn en hartseer was ek desperaat en het ek hulp gaan soek by ’n geestelike leier. Hy het na my probleme geluister en my onomwonde laat verstaan dat my huwelik onherstelbaar verbrokkel het. Hy het ook gesê omdat ek nog so jonk was, het die Here moontlik ’n ander man vir my. Hy het my aangeraai om ’n prokureur te gaan sien, wat my dieselfde raad gegee het. ’n Egskeiding was glo al oplossing, maar die finale besluit is aan my oorgelaat. 

Ek het die Here in volgehoue en dringende gebed genader en vir Hom gesê: “Vader, ek soek nie ’n ander man nie. Ek het ons huweliksbelofte op 7 Februarie 1970 voor U en baie getuies afgelê, dat ek getrou by my man in die huwelik sou staan tot die dood ons skei. Dié man is nou ook die pa van my drie kinders! Wat moet ek doen?” Toe hoor ek die stem van die Heilige Gees: Hy het my gevra wie ek wil vertrou om my te help om in hierdie huwelik te seëvier – die Here of die duiwel? Ek het daar en dan ’n geloofsbesluit geneem om die Here te vertrou. Die uiteinde was dat ’n wonderwerk in my huwelik plaasgevind het. My man het tot bekering gekom. Ons huwelik was hemel op aarde tot en met sy afsterwe op 22 Mei 1993. Vertrou op God en moenie besluite aan ander oorlaat nie.


JUIG! Tydskrif (April 2018)

Return to Home