Eer Aan U, Ondeurgrondelike Skepper!

– deur Ella Kritzinger

“Met my hele hart wil ek U prys, Here, wil ek van u magtige reddingsdade vertel.” – Psalm 9:2

Liewe vriendin, ’n Splinternuwe jaar vol planne, uitdagings, nuwe hoop en drome is hier! Ek hoop jy is uitgerus en opnuut lus om saam met my ’n jaar van praktiese geloof uit te leef.  Vir my is geloof ’n werkwoord, ’n daaglikse, praktiese leefwyse wat kragtig in dade oorgaan. Om God te prys en te eer vir Sy ondeurgrondelike skepping is deel van my geloofsdade. Ek is gaande oor vetplante en dit fassineer my om te sien hoe mooi God hulle geskep het. Ek het ’n hele versameling. ’n Tydjie gelede het ek my versameling oorgeplant. Tydens hierdie proses het ek na elke plantjie gekyk, afgeborsel, dooie blare verwyder, ens. Terwyl ek die plantjies hanteer, het ek gewonder wat in God se gedagtes omgegaan het toe hy hulle geskep het. 

Hulle laat my nogal aan ons vroue dink; party het dorings vir beskerming, ander is mooi gerond met genoeg kos onder die vel om enige droogte te oorleef. Die plante se unieke vorms, kleure, groottes en rondings trek baie aandag. Hulle is gehard en kan dae lank sonder kos en in uiterste toestande oorleef, maar wanneer hulle aandag en liefde kry, beloon hulle jou met welige groei en nuwe plantjies aan die moederplant. In die winter blom hulle in die allermooiste kleure. As ek na my vetplante kyk, loof ek God vir Sy skeppingsvermoë. Ek staan in verwondering oor die sorgvuldige uniekheid waarmee hy elkeen gemaak het. Miskien stel jy nie in vetplante belang nie, maar kyk gerus na God se skepping om jou. Jy sál iets wonderbaarliks vind waaroor jy Hom kan loof en prys.


JUIG! Tydskrif (Januarie 2018)

Return to Home