Duifieoë – Enkelvisie

– deur Ilse Kleyn

“Terwyl ons so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi…en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die Geloof. …” – Hebreërs 12:2

Die eerste kwartaal is al verby en dit voel asof die versneller van my lewe en die lewens van almal om my net nog dieper ingetrap word. Die lewe en al die besigwees hardloop met ons almal weg.

Waar ek vanaand hier sit en skryf, is ek so moeg. Ek kyk na my dagboek vir volgende week en wil huil. Wanneer gaan dit rustiger word, Here? Hoe verhoed ek dat die dryfsand van goeie, noodsaaklike gebeure en dinge my insluk? Ek weet dit is nie U wil vir my nie. Dadelik herinner Abba my aan ‘n skildery wat ek so paar jaar gelede geskilder het genaamd, Dove’s Eyes. 

‘n Duif kan net op een ding fokus, maar ‘n verkleurmannetjie het kantvisie met sy ogies wat in die rondte kyk sodat hy alles om hom kan waarneem. Ek voel vanaand soos daardie verkleurmannetjie. Ek kyk weer na die skildery en sien die vrou se liefdevolle blik op haar Here. Sy sien niks verder raak nie. Ek dink aan Stefanus wat net oë gehad het vir Jesus terwyl hulle hom stenig. “Maar hy was vol van die Heilige Gees en het die oë na die Hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God” (Hand 7:55). Hy was onbewus van al die houe en klippe wat hom tref – sy oë was vasgenael op sy Here. Ek besef ek kort enkelvisie – Help my Abba. Help ons.


JUIG! Tydskrif (Mei 2017)

Return to Home