Dra Jy Jesus Soos ’N Anker In Jou Hart?

– deur Esté Geldenhuys

“Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die Here!” – Psalm 27:14

Gebeur dit ook met jou dat jy in ’n gesprek beland en al wat na vore kom, is die lelik in jou – sodat jy agterna dink … was dit ek?! Kan ek só klink … só praat? Nou kan ons skuil agter “gees wat bots met gees” of dalk moegheid of ons verstaan mekaar eenvoudig nie … Dit het onlangs met my gebeur. Ja, dis totaal “terrible”. En dan raak dit ook meer mense óm jou en vrot word net vrotter. Toe ek by ons Vader gaan sit en huil, my hart skeur en nie my klere nie, vra ek Hom – hoe gebeur dit? Hoe kan ek dit net so … verloor? Ons Vader se antwoord het gekom deur ’n duidelike beeld met ’n boodskap wat ontstel, maar tegelyk uitkoms gee. 

My Vader het gewaarsku dat ek Jesus nie soos ’n kleed oor my skouers mag dra nie – iets wat ek maklik kan afgooi as ek my vererg. Jesus moet ’n anker in my hart wees – ’n anker van Sy liefde, van geloof en van die vrug van Sy Gees wat in my woon. Ja, alles wat ek in Hom is, moet te alle tye aan Jesus as Anker in my hart vas wees. In Johannes 2:15 lees ons dat Jesus ’n sweep gevleg het voor Hy die mense uit die tempel verjaag het. Het Hy dalk die tydsduur van die sweep se vleg nodig gehad om Hom aan ons Vader as Sy Anker vas te maak sodat Hy Hom nie te buite sou gaan nie? Kom ons oefen om van Jesus as anker in ons hart bewus te bly en veral in onbewaakte oomblikke met Hom in kontak te bly!


Bron: JUIG! Tydskrif (Oktober 2018)

Return to Home