Die Woord Is Soeter As Heuning

– deur Esté Geldenhuys

“Maar ek sal u aangesig in geregtigheid aanskou; ek sal versadig word met u beeld as ek wakker word.” – Psalm 17:15

Woorde fassineer my en taal bly ’n ontdekking! In my Afrikaanse Verklarende Woordeboek steek ek vas by die letters “v” en “w”. Kyk na die juwele: verkneuter, verkwik en verlangste. ’n Wielryer is sowaar ’n fietsryer. ’n Wind is nie net ’n wind wat waai nie. Jy kan die wind van voor kry, of goeie raad in die wind slaan. Geen mens kan van wind alleen leef nie. Die lewe word gerat deur die beweging en bestuur van woorde. En dan is daar die Woord en die Woord van God en hierdie twee is Een. “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. 

Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.” – Johannes 1:1-4 (NAV). Alle kommunikasie geskied deur woorde. Ook die kommunikasie tussen ons en ons Skepper. As ons ons Vader, Jesus en die Heilige Gees regtig wil leer ken, moet ons ons neuse in die Boek hou. Die woorde van die Bybel gee lewe en dit is werklik ’n lig op ons pad. Die vermaning in die Woord hou ons op die pad van heiligmaking. Die Woord voed ons gees. Die begrip daarvan verander ons menswees. Die geestelike skatte maak ons ryk en vol. Lees die Woord, elke dag. Onthou hoe Jonatan onwetend teen Saul se bevel in heuning geëet het en hoe sy oë toe helder geword het (1 Samuel 14). Eet die Woord, want dit is regtig soeter as heuning!


JUIG! Tydskrif (Junie 2018)

Return to Home