Die Bloed Van Die Lam

– deur Esté Geldenhuys

“Julle moet van die bloed smeer aan die sykante en die bokant van die deurkosyn van elke huis waar julle die lam gaan eet.” – Eksodus 12:7 (NAV)

Ons vier vandeesmaand Paasfees. In die kern van hierdie belangrikste fees staan Jesus. Hy was voor die grondlegging van die aarde reeds die Christus, die Seun van die enigste God wat leef, die Seun van die Skepper in wie ons die verlossing het deur Sy bloed; Jesus, die Beeld van die onsienlike God, die Woord wat ’n mens geword het. Aan Hom al die eer. ’n Argeoloog het eendag ’n baie belangrike ding aan my verduidelik. In die tyd van Moses was dit die gebruik in Egipte om die name van hulle gode op hulle deurkosyne uit te kerf. Die klipmure van hulle huise was baie dik en die kosyne van deuropeninge breed. Dit is moontlik dat van die Israeliete hierdie gebruik nagevolg het – om die name van afgode in hul deurkosyne uit te kerf.  

En toe kom die opdrag – om met ’n kwas van hissoptakkies die bloed van die lam aan die deurkosyne te verf. Sien dit in jou geestesoog. Die bloed sou daardie name van afgode bedek, dit tóéverf! Self as van die Israeliete nie die name van afgode op hul deurkosyne uitgekerf het nie, sou die bloed steeds verklaar Wie dit is wat in daardie huis aanbid word. En waar daar bloed aan die kosyne was, was daar lewe. Vandag is dit presies wat die bloed van die Lam vir ons wil doen. Sy bloed is steeds beskikbaar, maar die krag daarvan word teruggehou tot ons dit “aanwend”. Het ons afgode? Eers as ek erken dat dit vir my ook waar kan wees, sal ek my afgode herken. Is dit dalk my eggenoot? My voorkoms? My gemeente of my beroep? Sonder erkenning van my afgode kan die Bloed dit nie toeverf nie. Here Jesus help ons! Mag ek U waarheid oor my ontvang sodat U Bloed ook vir my vrymakende lewe kan skenk!


JUIG! Tydskrif (April 2018)

Return to Home