Laslappie Hart

– deur Heleen Abrahamse

ʼn Hart aan flarde.  My hart.  Gebroke.  In stukke geskeur.  Bietjie vir bietjie.  Nie alles op een slag nie.  Oor ʼn tydperk…  Dit maak die pyn aanhoudend, want ek’t nog seer van een gedeeldte wat geskeur het en voor ek dit kan genees, skeur die volgende stuk uit.

Ek slaan my oë op na die berge; waar sal my hulp vandaan kom?’ – Ps 121:1 

Ek sien in my geestesoog hoe twee hande ʼn stukkende hart, stuk vir stuk aan mekaar werk.

‘My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het’ – Ps121:2

My hart aan flarde word aanmekaar gewerk.  Nuutgemaak.  Anders.  Sterker.

Seerkry en hartseer is deel van ons lewens.  Dit is egter hoe ons die houe wat die lewe speel hanteer, wat die verskil maak.  Ons keuse is eenvoudig.  Ons kan kies dat die hartseer en seer ons elke dag oorweldig, of ons kan kies om daardeur te werk.  Dit neem tyd.  Dit is seer.

Om as mens deur die lesse van die lewe te kan groei, moet ons die proses vertrou.  Ons is so geneig om liewer sekere gedeeldtes of stappe oor te slaan omdat dit die teerste punte van ons menswees aanraak en ons voel dis beter om dit agter ons te sit en aan te beweeg.  Of ons maak of dit nooit gebeur het nie.  Soms wil ons nie verantwoordelikheid vat nie want dit sal beteken dat ons die ding wat ons die graagste wil vermy in die gesig staar. 

Jesus wil egter hê dat ons in ons seerste seer en die moeilikste besluite, ons hand in Syne sit.  Hy is ons gister, ons vandag en ons môre.  Niks is vir Hom n verrassing nie.

Ons weet dat God alles ten geode laat meewerk…’ – Rom 8:28

Eendag, wanneer ons deur die hartseer en pyn gewerk het, sal ons terugkyk en sien…

Return to Home