Onse Ma’s

Onse Ma’s
Ons almal het ons eie ma’s.
Hulle is vroeër gebore.
Ver voor ons.
Beplan deur God om voor ons te begin lewe.
Hulle was hulle tyd vooruit.
Hulle moes net bietjie meer vir ons gewag het, dan was ons meer maats.
Hulle sou die beste maats ooit gewees het!
Maats for life…
Toe ons klein was, het hulle ons doeke omgeruil, en ons winde uitgevryf.
Later, ons aangetrek met snaakse kleertjies wat hulle vir ons gekies het.
Ons is pap gevoer op liedjies, en soms is die liedjies sommer opgemaak met annerste woorde.
Mammas ruik ook anners.
Hulle is ook altyd warm, want hulle pak kombersies in, en as hulle koud kry roep hulle ons om ’n trui aan te trek.
Ma’s het skote…
skote met genoeg plek
Jy kan op haar skoot lê en aan die slaap raak.
Hulle druk jou ook so hard en kan jou vreeslik baie keer soen.
(Al verjaar jy nie eers nie)
Hulle loer ook vir hulle kinders as hul slaap, net om seker te maak daar’s niks fout as dit so doodstil is nie…
Ma’s het ’n voorgevoel.
Hulle hou nie van sekere anner kinders nie.
Hulle bid ook baie.
Vir alles
Veral vir kinners.
(Ek weet nie soms hoekom nie, want soms is kinders baie stout soos om nie betyds te gaan bad nie!)
Ma’s spog vreeslik.
Hulle vertel vir hulle vriende hoe oulik hulle kinders is.
Ma wees is harde werk, maar my ma het nog nooit daaroor gekla nie… Sy hou net aan en aan…
Ma’s is wonderlik, want Liewe Jesus kies hulle uit vir kinders.
Ek het die beste ma gekry, maar sy’s nou terug by Jesus,
Te hard gewerk , dink ek.
Nou rus sy ’n bietjie by Hom.
“Nag Ma, groete vir Pa!”
Ons sal mekaar weer sien..
– Dawie Spies

Return to Home