2 Korintiërs 10:5 Ons Neem Elke Gedagte Gevange Om Dit Aan Christus Gehoorsaam Te Maak

– deur Heleen Abrahamse

Ek sit op ʼn rots en tuur oor die water.  Die gety is besig om in te kom.  Die see is rof.  Die wind waai.  Eks alleen, behalwe vir drie vissermanne wat daar om my iets probeer vang.  Elkeen op sy eie rots.  Ek geniet die koel lug en die stories van die water.  Ek kyk hoe golf na golf op die rotse breek en nie een keer dieselfde prentjie skets nie.  Ek kan ure net vir die see sit en kyk en my verwonder aan die grootheid van God.

My gedagtes begin dwaal…  Ek los hulle.  Wat in my vassit moet uitkom.  Dis asof alles net so in hulle boksies inval terwyl ek na alles en na niks oor die magdom water sit en kyk nie.  Hulle neem my terug na ʼn plek van hartseer.  My egskeiding.  Ek wonder aan my binnekant hoekom hierdie gedagtes weer so seer gevoel in my hart inbring?  Dis goed wat ek reeds deurgewerk het.  Ekt dit nie in my agterkop gelos en gehoop dit gaan weg nie.  Ekt my hand in die Here sin gesit en gesê ‘Help my, ek wil gesond wees.’  Die Here het my genees.  Ekt die pad om genesing gestap!  ʼn Seer een!  Maar ekt dit voltooi. 

Ek gee oor.  Eks nie lus om die gedagtes vas te vat nie en die hartseer, verwyte, pyn en vrae oorrompel my weer…

ʼn Brander breek links van my.  Die gedonder van die water wat op die rots klap trek my aandag en toe… Toe spat die sprei my nat.  Nét vir my.  Soos wanneer mens iemand met ʼn glas water in die gesig sou gooi, so spat daai brander vir my nat én NUGTER!  Niks om my is nat nie.  Nie die rots nie, nie eers verder vorentoe nie. Net ek.

Die besef sink in my hart in soos ʼn klip na die bodem van die see.  Ek begin lag.  ‘Ja Here’ sê ek.  Ek was wakker en ten volle bewus.  As dit nou nie ʼn ‘wake-up call’ was, dat ek weer van my hartseer gaan haal het wat ek reeds deurgewerk het nie, moet ek dit toeskryf aan toeval en daarin glo ek nie.

Ek staan op.  Verbaas, dik van die lag en om eerlik te wees effens geskok…  Die Here kan nie net ‘audibly’ praat nie Hy kan jou “audibly” nat spat met water ook.  

Skielik onthou ek, ek was nie heeltemal alleen nie…  Ek kyk oor my skouer.  Die visserman daar staan met n bloedrooi gesig na my en kyk.  Dit lyk of hy nie sy lag kan hou nie.  Ek kry skaam.  Ek sien in my geestesoog hoe hy die hele petalje in die gees sien afspeel het en presies opgetel het wat gebeur het.

Hy vra toe so ewe of ek ‘ok’ is.  ‘Ja’ bloos ek.  Ekt nog iets gemompel en kies toe hase pad huistoe.

Die gedgates probeer weer terugkruip en vashouplek kry.  Dié keer vat ek hulle mooi vas.

Netnou trip ek…

Return to Home