10 September 2018

’n Zoeloe-koning van die Mthethwa-stam het sy steun uitgespreek vir die staat Israel na ’n besoek aan die land en het alle Suid-Afrikaanse Christene aangemoedig om vir hulself te sien wat die waarheid is en nie deur die media aan die neus rondgelei te word nie.

Nkosi Zwelakhe Mthethwa, ’n afstammeling van koning Shaka, het gesê: “Die Jode gaan nie ly terwyl ons daar is om hulle te beskerm nie. In Suid-Afrika beheer ons die stem van ons massas. Ons moet volgens ons erfenis as Christene begin stem.”

Hy het deel gevorm van ’n afvaardiging hooggeplaaste plaaslike Christen-leiers en hoogwaardigheidsbekleërs wat onlangs teruggekeer het van ’n reis na Israel. 

In ’n onderhoud op Kanaal 2 van Israel National News verlede week, het Mthethwa gesê daar sal veranderings in die houding teenoor Israel wees na aanleiding van hul besoek aan die land.

“Ons sal beslis ’n verandering sien, want ons is van die burgerlike samelewing en dit was nodig dat ons self kon kom en sien wat werklik aangaan.”

Hy het gesê dat die groep tydens hulle besoek nie bedreig gevoel het nie. “Vir my was dit ’n nuwe paradigma. Wat ons hier sien, is vrede, rustigheid en stabiliteit. ”

Die besoek, wat van 11 tot 17 Augustus plaasgevind het, is deur die South African Friends of Israel (SAFI) en die Israelse ministerie van buitelandse sake georganiseer ter wille van “samehorigheid”. Hul doelwit, sê SAFI se Mark Hyman, was om “mense vanuit verskeie politieke partye, Christen-kringe en die burgerlike samelewing terug te bring wat voorstanders vir Israel kan wees.”

Onder die genooides was Sibongile Cele, die adjunkvoorsitter van die ANC se vroueliga, Wyk 125 in Johannesburg, wat haar reis as ’n lewensveranderende, inspirerende en baie emosionele ervaring beskryf het.

Sy is vergesel deur Cornelius Raseobi, die president van die jeugliga van die Congress of the People (Cope); pastoor Julius Moloi, die president van die Christian Ministers Coucil of Southern Africa en ’n aantal apostels, leraars en invloedryke Christen-leiers wat die Christelike gemeenskappe van Suid-Afrika verteenwoordig het. 

Mthethwa het in die onderhoud gesê hy ken geen nie BDS-aktiviste (Boikot, Divestment and Sanctions) nie en hulle het dus nie sy oor nie.

“Ek verstaan ​​daar is mense wat sê daar is apartheid in Israel, maar sonder om self hierheen te kom, teer hulle bloot op wat die media berig,” het hy gesê.

Hy het sy dank uitgespreek dat hy Israel kon besoek tydens die 200ste herdenking van die dood van koning Dingiswayo, die leier van die koninkryk van die Mthethwas.

“Ek het in Israel geland tydens moeilike tye waar die mense van G-d vervolg word. Ek het gekom om my stem van steun te verleen, as ’n gelowige kan ek nie swyg nie. Ek sal Christene wêreldwyd mobiliseer om Israel te ondersteun, want hierdie plek [Israel] is ons tasbare éen onsigbare erfenis.”

Hy het gesê dat alle Christene Israel moet besoek, om “self te kom sien”.

“Ons mense sukkel onder demokrasie … dit is duidelik dat ons G-d nodig het … en dit is die G-d van Israel. Dit is die erfenis wat vir ons gelaat is.”

Lees die volledige berig by www.sajr.co.za


Deur: Nicole Miltz
Bron: www.sajr.co.za

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.