20 Maart 2019

CLF se personeel het werklik omgeeharte vir gemeenskappe en God se kinders. Die personeel van die organisasie het aan die begin van Januarie 2019 van die verwoestende brande in Wupperthal gehoor en uitgereik na mense wat skrywes op sosialemedia geplaas het.

Die Wupperthallers het alles verloor in die verwoestende vure – ook kosbare foto-albums en hulle Bybels.

Die interaksie op sosiale media het CLF na Clement Cupido gelei. Hy is ook ’n Wellingtonner soos CLF en die organisasie het ’n afspraak gemaak met hom en sy seun, wat by jeugbediening betrokke is, om uit te vind of hulle CLF kon help met kontakte of vervoer na Wupperthal, want hulle wou die dorpie se skoolkinders seën met hul eie nuwe Bybelboeke.

Die ontmoeting was verseker ’n geseënde goddelike afspraak. Clement het CLF met Wupperthal se skoolhoof, Marelda Prins, in kontak gebring. CLF het die Storieboekbybels, vir die verskillende ouderdomsgroepe in die skool, vir eers by die skoolhoof se huis gaan aflaai.

Marelda het foto’s aangestuur van die dag toe die kinders hulle Bybels ontvang het. CLF weet die Here sal aan elkeen van daardie kinders weer hoop gee. Mag elke storie wat hulle van die Here lees, hul harte aanraak en nader aan Hom bring!

Clement het CLF ook vertel van sy werk en hart vir die gemeenskappe waar hy werk – onder andere in Leliefontein,’n klein sendingstasie-dorpie wat ongeveer 29 kilometer vanaf Kamieskroon in die Noord-Kaap geleë is.

Hy het CLF vertel van Ivan Roberts, ook ’n Wellingtonner, wat alles opgegee het om ’n bediening by die Metodiste Kerk in Leliefontein se begin. Clement het breër geglimlag toe hy vertel van CLF se gratis pamflette en hoe toepaslik die onderwerpe is vir sy werk en daardie gemeenskappe. Clement en sy seun het toe “inkopies” in CLF se stoor gedoen en weggestap met ’n boks vol gratis pamflette wat hy na Ivan op Leliefontein sou neem.

Toe Clement na die faktuur kyk met die lys van pamflette, was die totaal R0.00. Hy het wys opgemerk: “Hierdie is soos ons lewe, in ’n boks, en die Here sê, jy skuld MY niks!”

Dankie aan elke getroue donateurs vir julle bydraes tot CLF se “Een miljoen Bybels vir een miljoen kinders”-projek wat dit vir CLF moontlik maak om hoop te bring waar dit soms lyk asof daar nie meer hoop is nie. Besoek gerus clf.co.za/ vir meer inligting oor hulle produkte.


Bron: Artikel verskaf

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.