-deur Jelleke Wierenga

8 Mei 2018

Die wêreld het verstom gestaan toe die Noord-Koreaanse diktator Kim Jong-un en sy aartsvyand, pres. Moon Jae-in van Suid-Korea, onlangs op ’n geskiedkundige vredesberaad in die grensdorp Panmunjom blad geskud het. Dit bring ’n einde aan die 67-jarige Koreaanse konflik en lui ’n nuwe era van vrede in.

Kim het nog onlangs soos die wolf in die sprokie gedreig en geblaas en missiele oor Japan afgevuur. Hy het selfs gedreig om Amerika, die sterkste militêre moondheid ter wêreld, onder die kernbomme te steek.

Die twee leiers het ooreengekom dat hulle die Koreaanse skiereiland binne ’n jaar van alle kernwapens gaan suiwer. Daar is ook ooreengekom dat families wat geskei is sedert die Koreaanse oorlog in 1950 begin het, mekaar weer kan sien.

Weinig mense besef hoeveel Christene in Suid-Korea vir die vredesberaad gebid het. Talle het dae lank gevas. Selfs ’n groep Christen-politici het ’n vas-en-bid-byeenkoms in die parlementsgebou in Seoel gehou. Noord-Korea se wreed vervolgde Christene bid ook al jare vir uitkoms. Volgens Geopende Deure word Christene in Noord-Korea die ergste vervolg van alle Christene ter wêreld. Hulle moet in die geheim bymekaar kom – sou hulle gevang word, word hulle na werkskampe of gevangenisse gestuur of dadelik tereggestel omdat hulle nie Kim Jong-un as hul god aanbid nie.

God is egter aan die werk te midde van al hierdie verdrukking. Volgens ’n verslag van die Amerikaanse departement van buitelandse sake het die getal Christene in Noord-Korea van 2012 tot 2017 vervyfvoudig. Daar kan nou tot 400 000 Christene in die land wees.

Die Noord-Koreaanse utopie wat Kim aan die wêreld wou voorhou, is wêrelde verwyder van die werklikheid. Daar is chroniese hongersnood in die land, geen ekonomiese groei nie, omtrent ses miljoen inwoners ly honger, die meeste het geen elektrisiteit nie, en geen toegang tot die internet of nuus van die buitewêreld nie.

Skielik is daar nou hoop vir die Noord-Koreane, en veral vir die Christene. God het hierdie wonderwerk bewerkstellig; dit is nie die werk van ’n politikus nie. Hy het die gebede gehoor van Sy mense aan albei kante van die konflik, ook die gebede van gelowiges wêreldwyd. Hy sal ’n ewige vrede in hierdie deel van die wêreld bring en die deure wyd oopgooi vir die Evangelie waarna miljoene dors. Kort voor lank sal die kerke in Suid-Korea spanne na die noorde kan stuur met kos, medisyne en die boodskap van Christus. Ons is getuies van die grootste vertoning van God se almag oor volke sedert die val van die Berlynse Muur.


Bron: charismanews.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.