16 November 2018

Dit is tyd dat die publiek die reg wat ons aan politieke partye afgestaan het, terugneem en toevertrou aan die individu wat volgens ons verdien om in die parlement te wees en hom dan daarvoor aanspreeklik hou.” – Dr. Michael Louis

Volgens die grondwet (sien Afdeling 19(3)b van die grondwet) het elke volwasse burger die reg om –

(a) te stem in verkiesings vir enige wetgewende liggaam wat ingevolge die Grondwet ingestel is, en om dit in die geheim te doen; en

(b) ʼn kandidaat vir ʼn openbare amp te wees en, indien verkies, die amp te beklee.

Die indiening van ’n privaatlid (gewone burger) se wetsontwerp aan die speaker van die Nasionale Vergadering op 13 November, wat kiesers kan toelaat om die beste kandidate in volgende jaar se verkiesing te kies, was ’n wonderbaarlike antwoord op gebed, het dr. Michael Louis gesê.

Hy voer al vir 18 maande ’n regstryd om die Kieswet gewysig te kry. Die wetsontwerp wat hy opgestel het, is uiteindelik deur die Cope-leier, Mosiuoa Lekota, ter tafel gelê en deur die ACDP-leier, Kenneth Meshoe, gesteun. Die wetsontwerp sal dit moontlik maak vir onafhanklike kandidate om in die volgende verkiesing te staan.

Louis, wat ’n stigterslid van die ACDP en ’n oud-LUR in die Wes-Kaapse provinsiale wetgewer was, het verduidelik dat Suid-Afrika se huidige proporsionele verteenwoordiging verkiesingstelsel politieke partye mag gee sonder om aanspreeklik te wees teenoor kiesers.

Sedert Julie 2016 voer Louis al ’n regstryd in die Konstitusionele Hof en die Wes-Kaapse hooggeregshof, gegrond op Artikel 19 van die Grondwet wat voorsiening maak dat burgers ook tot ’n openbare amp verkiesbaar kan wees.

Hoewel die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) nie Louis se regsargument afgemaak het nie, is daar aangevoer dat daar nie genoeg tyd oor is om die Kieswet betyds te wysig vir die verkiesing in 2019 nie.

Louis sê God het tussenbeide getree toe hy It’s Time Pretoria op 27 Oktober bygewoon het. “Toe ek hoor hoe ’n miljoen mense vir ons nasie bid, het ek vir die Here gesê: ‘U weet dat ek alles gegee het wat ek kan doen. U sal die deurbraak moet gee.’”

Kort hierna het hy in gesprek met Lekota verduidelik hoe hulle Suid-Afrika kan red deur ’n verandering in die kiesstelsel. Na ’n vergadering met Lekota het die Cope-leier 48 uur later oor ’n mosie van nasionale belang in die parlement gepraat en is die wetsontwerp ingedien.

“God tree baie vinnig op wanneer dit nodig is. Dit was wonderlik om dit te ervaar. . .”

Louis het gesê die probleem in Suid-Afrika is dat kiesers die mag aan politieke partye oorgedra het wat nou vry is om te doen wat hulle wil, sonder enige aanspreeklikheid teenoor die kiesers.

“Dit is tyd dat die publiek die reg wat ons aan politieke partye afgestaan het, terugneem en toevertrou aan die individu wat volgens ons verdien om in die parlement te wees en hom dan daarvoor aanspreeklik hou,” het hy gesê.

Lees die volledige berig by gatewaynews.co.za


Bron: gatewaynews.co.za

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.