-deur Chris Mitchell

13 Julie 2017

(Irak) – [CBN Nuus] Die Irakse premier, Haider Al-Abadi, het Maandag die oorwinning in Mosoel verklaar toe die Irakse weermag die laaste paar meter grondgebied onder die beheer van die Islamitiese staat ingeneem het.

Die militêre veldtog om Irak se tweede grootste stad terug te neem, het in Oktober begin en langer geduur as wat voorspel is. ISIS-vegters het hewig teruggeveg om die stad te behou. Hulle het dit gedoen met selfmoordaanvalle, huis-tot-huis-gevegte, skerpskutters en deur Mosoel se burgerlikes as menslike skilde te gebruik.

‘n Geskatte 900 000 inwoners het uit die stad gevlug; duisende het gesterf en baie van diegene wat oorleef het, het ernstige trauma beleef. Noudat Mosoel bevry is, waarvan moet ons bewus wees en waarvoor kan ons bid? Hier is vyf dinge om in ag te neem:

  1. Herstel sal ʼn groot taak wees.

“Mosoel is heeltemal vernietig,” is die evaluering van een Irakse amptenaar. Wanneer ʼn mens foto’s van Mosoel sien, lyk dit of die apokalips plaasgevind het. Een Koerdiese vriend van my wat die stad besoek het, sê dit is ‘n “tweede Aleppo.” Dit is ‘n verwysing na die Siriese stad wat vernietig is deur die stryd tussen die Siriese weermag, bygestaan deur Russiese lugaanvalle, en die Islamitiese faksies wat die stad verdedig.

Mosoel- die antieke Ninevé van die Bybel – is ‘n leë afskemering van sy vroeëre glorie. Om die stad te herstel sal miljarde dollars en jare se werk verg.

  1. Baie Christene is nou haweloos

Toe ISIS Mosoel in die somer van 2014 ingeneem het, het duisende Christene vir hulle lewens gevlug. ISIS-vegters het hulle voor vier keuses gestel: verlaat julle huise; bly, maar betaal die jizya-belasting vir nie-Moslems; neem Islam aan en ontken Jesus; of sterf met die swaard.

Die meeste het hulle huise en lewensbestaan ​​agtergelaat. Nou woon baie van hulle in vlugtelingkampe, maar hulle leef in die hoop om terug te keer na hulle wonings in Mosoel. Daar sal nog bepaal moet word of die huise selfs bewoonbaar is. Bid asseblief vir hierdie gelowiges aangesien hulle Mosoel se verwoeste huise en ‘n donker toekoms in die gesig staar.

  1. Die stad Raaqa

Die stryd teen ISIS gaan voort. Die bevelvoerder van die Amerikaanse troepe in Irak het gesê sy nommer twee prioriteit was die terugname van Raaqa in Sirië. Dit is nou sy nommer een prioriteit. Dit beloof ook om ʼn bitter stryd te wees.

  1. Die kalifaat is verslaan; die kalifaat sal weer kom

Drie jaar gelede, op 5 Julie 2014, het Abu Al Baghdadi die trappe van die ‘minbar’ (preekstoel) in Mosoel se Grand Al-Nuri-moskee stadig bestyg; ‘n kalifaat aangekondig en die nuwe kalief verklaar. Drie jaar later lê die kalifaat in puin, maar hulle apokaliptiese stryd gaan voort.

Hulle keer weer terug na hul terreurwortels met volgelinge wat bloedbaddens veroorsaak in plekke ver daarvandaan soos in Londen of die Filippyne. Dit is belangrik om te onthou ISIS is ‘n manifestasie van ‘n ideologie wat glo dat die wêreld onder die onderwerping van Islam gebring moet word. Hierdie geloofstelsel, met sy wortels in die Koran, stook die vure in individue en groepe, maar ook in nasiestate. Byvoorbeeld, Iran se doelwit is om sy Sjiïtiese Islam uit te brei sodat hulle eendag die wêreld sal oorheers.

  1. Die Heilige Gees is werksaam

Die Heilige Gees is te midde van die dood, verwoesting en wanhoop wat in Mosoel geheers het, werksaam. Selfs in vlugtelingkampe wat deur vlugtelinge van Mosoel oorstroom is, het Moslems drome en visioene van Jesus ontvang. Sommige het hulle geloof in Hom geplaas. Bedienings soos Free Burma Rangers bied mediese verligting aan die voorfront van die stryd terwyl die Goeie Nuus van Jesus gedeel word.

CBN International en ander bedienings werk om humanitêre verligting te verskaf en hoop aan diegene te bied wat hulle lewensbestaan ​​verloor het. Bid asseblief dat die Heilige Gees sal voortgaan om te werk in die harte van die menigtes wie se lewens verwoes is deur die stryd om Mosoel terug te neem

(Foto: Irakse PM Media kantoor via AP / via CBN Nuus)


Bron: breakingchristiannews.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.