-deur Lourieke Haller

8 November 2017

’n Vuur wat op Dinsdagoggend teen die hange van die berg by Gordonsbaai begin het, het tot dusver vyf huise verwoes. Die vuur is aangeblaas deur ’n sterk Suidooster wat die brandbestryders se taak bemoeilik het.

Charlotte Powell van die stad se rampbestuureenheid het gesê die dierewelsynvereniging se perseel in Gordonsbaai is in die brand vernietig. Vroeër is die publiek versoek om diere te help ontruim van die perseel.

Christen-bedienings is ook deur die verwoestende brand geraak. Eagles Rising, wat opleiding aan studente van agtergeblewe gemeenskappe bied, moes studente en personeel ontruim en hoewel dele van die plaas afgebrand het, is die skoolgebou ongedeerd en het studente nie van hulle besittings verloor nie.

Mary-Anne Shearer,  outeur van “The Natural Way” en eienaar van die Natural Way Restaurant, het ’n pakhuis en voertuie verloor. Sy skryf op Facebook: “Vandag het ons alles verloor wat ons besit, toe ons pakhuis en restaurant en musiekskool afgebrand het … Ons is verslae – veral oor ons 20 personeellede wat nou geen werk het nie. Twee van ons personeellede het alles verloor wat hulle gehad het omdat hulle op die eiendom woon. Ek en Mark het al ons persoonlike besittings verloor wat ons oor die afgelope 40 jaar bymekaar gemaak het. Al my boeke – honderde van hulle, al ons klere en skoene, maar ek is dankbaar dat al my kinders en kleinkinders veilig is.

“Ek weet dat God ‘n plan en doel vir ons het en dat die goeie hieruit sal voortspruit. Ek is net nie seker wat ons gaan doen nie. Wees dankbaar vir wat jy het, om warm en knus in jou huis en bed te wees vanaand. Ek gaan myne mis …”


 

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.