-Linsay Dentlinger | 4 dae gelede

Die African Christian Democratic Party (ACDP)  se parlementslid Cheryllyn Dudley het  ’n nuwe wetsontwerp oor aborsie ter tafel gelê. Volgens in berig in Eye Witness News (EWN) is daar belangrike mediese vooruitgang gemaak wat wys dat ʼn fetus lewensvatbaar is teen 20 weke van die swangerskap sedert die wet op die beëindiging van swangerskappe meer as 20 jaar gelede aanvaar is. Sy voer aan dat die tyd aangebreek het om die wet aan te pas.

Dudley het twee weke gelede geskiedenis gemaak deur die eerste private lid te wees wie se wetsontwerp deur die nasionale vergadering aanvaar is met die nuwe wet wat vaders nou tien dae kraamverlof sal toelaat.

Dudley sê die wet oor die beëindiging van swangerskap is te wyd en stel geen grense nie. Haar wetsontwerp stel verpligte berading voor voordat ‘n besluit oor aborsie geneem kan word.

Volgens die berig in EWN sê sy dit kan nie net dokters wees wat toegelaat word om te besluit of iemand uit ʼn lae-inkomste-gesin se baba ’n finansiële las sal wees of nie. Die wetsontwerp stel voor dat hierdie besluit in samewerking met ‘n maatskaplike werker geneem moet word.

Dudley sê die “risiko dat die fetus beseer kan word” behoort  nie meer as ‘n geldige rede gebruik te word om ‘n andersins lewensvatbare swangerskap na 20 weke te beëindig nie, aangesien daar by elke geboorte  ‘n risiko vir die baba is.

Die wetsontwerp stel voor dat elke vrou toegelaat word om ’n ultraklankskandering te ontvang om die  presiese tydperk van die swangerskap te bepaal sodat ‘n ingeligte keuse gemaak kan word of die swangerskap  beëindig moet word al dan nie.

Dudley sê vroue moet ingelig word oor die beskikbare opsies en het dus die verpligte berading voorgestel.


Bron: ewn.co.za

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.