-deur Errol Naidoo

19 Maart 2019

Baie dankie aan elkeen wat die Suid-Afrikaanse owerhede gekontak het en versoek het dat die gevaarlike Transgenderresolusie,wat herdefinieer wat dit beteken om manlike of vroulik te wees, by die Verenigde Nasies (VN) se Menseregteraad onttrek moet word. Die reaksie was fenomenaal.

Dit is egter belangrik om te weet dat Family Watch International (FWI) berig dat Suid-Afrika ’n aangepaste weergawe van die Transgenderresolusie by die menseregteraad ter tafel gelê het, wat steeds ’n bedreiging is.

FWI berig: “Hoewel ’n paar veranderinge aangebring is om dit na ’n kompromis te laat lyk, bevat die nuwe weergawe steeds al dieselfde hoogs problematiese woorde.”

“Ondanks intense teenkanting van oral in die wêreld en selfs vanuit hulle eie stemblok in Afrika, is een van die redes waarom Suid-Afrika hardnekkig volhou met die resolusie, omdat hulle glo dat hulle reeds genoeg stemme in die raad het om dit deur te voer – ongeag enige teenkanting.”

Blykbaar maak Suid-Afrika daarop aanspraak dat sy VN-resolusie gaan oor die beskerming van interseksmense in sport. Die dubbelsinnige woorde wat in die resolusie gebruik word, steun egter nie hierdie aanspraak nie.

FWI het voorgestel dat Suid-Afrika die resolusie aanpas om te verseker dat die woorde wat gebruik word, nie gemanipuleer kan word om transgenderisme te steun en te herdefinieer wat dit beteken om manlike of vroulik te wees nie.

Suid-Afrika het ongelukkig reeds ’n geskiedenis waar hy telkens by die VN téén die natuurlike gesin stem en die radikale feministiese en seksuele regte agenda steun. Dit weerspieël nie die meerderheid se waardes nie.

Gedurende die afgelope maand het die ANC-regering ’n afvaardiging na Venezuela gestuur om sy steun aan pres. Nicolas Maduro se regime toe te sê in ’n land wat vernietig is deur mislukte sosialistiese beleid. Suid-Afrika het ook voortgegaan met sy planne om die land se ambassade in Israel af te gradeer terwyl hy hand om die blaas is met Hamas-terroriste. Suid-Afrika is die enigste Afrika-nasie wat die radikale seksuele regte en aborsie-agenda én die diaboliese Comprehensive Sexuality Education (CSE) – ’n oorlog teen kinders – voorstaan en aktief bevorder.


Artikel: Verskaf

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.