-deur Maroela Media

17 Mei 2017

Die Stad Kaapstad se burgemeesterskomitee het Dinsdag voorgestel dat die raad vlak 4-waterbeperkings instel. Indien dit goedgekeur word, sal die waterbeperkings van 1 Junie ingestel word.

Die burgemeesterskomitee het alle watergebruikers gemaan om munisipale water slegs te gebruik om te drink, mee te kook of te was, aangesien die damme ʼn kritieke vlak bereik het en die gebruik steeds te hoog bly.

Vlak 4-beperkings behels dat 100 liter per persoon per dag aangemoedig word. Swembaddens mag dan nie meer opgevul word nie, en die was van motorvoertuie met munisipale drinkbare water word verbied (karwasserye mag aansoek doen vir kwytskelding). Besproeiing van tuine met drinkbare water  – selfs met emmers – word verbied.

Raadslid Xanthea Limberg het gesê inwoners in Kaapstad moet aan die waarskuwing voldoen, aangesien dit ʼn “ernstige krisis” is.

Die voorgestelde boetes op vlak 4-waterbeperkings is onderhewig aan die raad en die hofmagistraat se goedkeuring. Dit strek tussen R1 000 en R5 000.

“Ons moet die verbruik binne die volgende week met 100 miljoen liter water per dag verminder.”

Inwoners kan ʼn e-pos stuur aan water@capetown.gov.za vir navrae of om oortredings aan te meld (voeg bewyse by), of stuur ʼn e-pos aan 31373.

Byskrif: Theewaterskloofdam (Mei 2017) Foto: David Bradley (@DJDBrad), Twitter


Bron: maroelamedia.co.za

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.