-deur INcontext Ministries

12 September 2018

Die Siriese weermag en hul Russiese bondgenote het Sondag 9 September met gevegte in die noordwestelike provinsie van Idlib begin. Dit, nadat die Turkse president, Recep Tayyip Erdogan, verlede week in ’n desperate poging misluk het om sy Russiese en Iranse eweknieë te oortuig om die skietstilstand in Idlib te ondersteun. Die noordwestelike provinsie is ’n vesting van die al-Kaïda-geaffilieerde terroristegroep, Hayat Tahrir al-Sham, asook ander gewapende rebellegroepe (insluitende radikale Salafi-groepe). Baie van hierdie groepe is in hierdie provinsie hervestig, ná bemiddelingooreenkomste met die regering in die ander streke in die land misluk het.
Die Washington Post berig dat Hayat Tahrir al-Sham en sy Salafi-vennote plekke in die Idlib-provinsie opgerig het vir openbare teregstellings, waar verraaiers en dié wat ’n uitleweringsooreenkoms met die regering wil sluit sowel as teenstanders van hul wrede toepassing van die Islamitiese wet, gehang gaan word.

Die gebied is reeds deur duisende burgerlikes ontruim, maar daar is kommer dat die burgers wat agtergebly het as gyselaars aangehou gaan word en dat hulle verhoed sal word om te vlug (soos in Aleppo, Douma en ander rebelgebiede). Dit is welbekend dat rebellegroepe se strategie is om burgerlikes te gebruik as skans of as “menslike skilde” teen die Siriese magte te gebruik wanneer hulle die rebelle gebiede bombardeer.

Die afgelope paar weke het bronne uit die hoofstroommedia gereeld oor die waarskynlikheid van chemiese aanvalle in Idlib berig, terwyl die VSA, Verenigde Koninkryk en Frankryk dreig dat hulle aanvalle op Sirië gaan loods indien dit wel die geval is. Russiese amptenare het op hulle beurt gewaarsku dat die rebellegroepe besig is om chemiese wapens te posisioneer vir gebruik in ’n moontlike ‘valse vlag’-aanval. Só ’n ‘valse vlag’-aanval is wanneer buitelandse gesteunde groepe ‘n aanval loods sodat die internasionale gemeenskap oortuig kan word om die ‘vyand’ die skuld te gee. Talle ontleders voer aan dat Siriese rebelle al voorheen dié taktiek gebruik het, wat gelei het tot bombardering van die Siriese weermag deur die Westerse geallieerde magte.

Bid asseblief saam met ons om vir Sirië. Vir ’n spoedige oplossing vir hierdie oorblywende rebelle-streek (met minimale lewensverlies) en om hierdie verwoestende oorlog tot ’n einde te bring sodat daar met die herbou van Sirië begin kan word.

“God wil hê ons moet bid, en Hy wil ons gebede verhoor – nie omdat ons dit verdien nie, maar omdat Hy barmhartig is.” (Martin Luther)

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.