deur INcontext Ministries

7 Oktober 2017

Soldate het op Sondag 1 Oktober ten minste agt mense doodgeskiet en ander gewond tydens protesoptrede in Kameroen se Engelssprekende streek. Die aktiviste betoog omdat hulle onafhanklikheid van die meerderheid-Franse land eis. Voor die protesoptredes het die owerhede reeds alle byeenkomste van groepe mense verbied. Busstasies, restaurante, kafees en winkels is gesluit, en die verkeer na en van verskillende dele van die Engelssprekende gebiede is verbied. Toegang tot gewilde sosiale medianetwerke, insluitende Facebook, Twitter en WhatsApp, is van Vrydag af ontwrig.

Protesoptrede deur die Engelssprekende minderheid het einde verlede jaar begin weens kommer oor die feit dat hulle dikwels uitgesluit word van die hoë poste in die staatsdiens en dat die Franse taal en regstelsel op hulle afgedwing word. Wat aanvanklik slegs ʼn beweging was wat meer regte geëis het, het ontwikkel tot ʼn eis vir onafhanklikheid. Kameroen se verdeeldheid het sy oorsprong in die einde van die Eerste Wêreldoorlog, toe die Volkebond die voormalige Duitse kolonie nl. Kamerun verdeel het tussen die geallieerde Franse en Britse oorwinnaars.

Ongeveer 70% van Kameroen se bevolking word as Christelik beskou, 19% is Moslem en 10% beoefen tradisionele inheemse godsdienste. Die twee Engelse provinsies in die westelike streek is grotendeels Protestant, terwyl die Franse provinsies in die suidelike en westelike streke grotendeels Rooms-Katoliek en evangelies is.

Bid asseblief saam met ons vir Kameroen.

“Iemand wat ‘n intieme verhouding met God het, sal nooit deur mense geïntimideer word nie.” (Leonard Ravenhill)


 

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.