-deur Dale Hurd

20 September 2018

Venezuela se sosialistiese ekonomie het die land se gesondheidsorgstelsel in duie laat stort en die situasie in die land se hospitale is haglik.

By die San Cristobal-hospitaal in Tachira-staat word slegs noodgevalle toegelaat, en mense moet hul eie medisyne, verbande en handskoene koop.

Sommige pasiënte moet noodgedwonge sit en wag vir behandeling wat nie kom nie. Een pasiënt, Gloria, benodig ’n metaalpen vir haar been, maar kan tot drie maande lank wag.

Weens ’n tekort aan verpleegsters versorg talle pasiënte se familielede hulle. Baie dokters en verpleegsters het die hospitaal verlaat omdat hulle nie kon oorleef op die minimum loon wat hulle ontvang het nie en die wat oorbly, werk vir kleingeld.

Margaret Gamboa, ’n mediese student sê: “Dit is so hartseer. Ek kan hulle nie help nie, maar daar is niemand hier nie.”

Die hospitaal is bankrot gelaat deur die verslegtende ekonomiese situasie in Venezuela en dele van die hospitaal moes toegemaak word weens die gebrek aan voorrade.

’n Sewejarige meisie lê op ’n bed, sy het ’n breingewas. Daar is geen kankerbehandeling beskikbaar in die land nie en sy word in haar hospitaalbed versorg deur haar ma, Emyuri Fuentes. “Ons is reeds hier vir twee maande. Ek doen maar alles in my vermoë om haar gemaklik te hou en te help,” sê sy.

’n Seun benodig antibiotika vir ’n ernstige inwendige ontsteking, maar die medikasie is eenvoudig nie beskikbaar nie. Sy pa beskryf die situasie as ’n “nagmerrie”.

Korrupsie en sosialisme eis ’n geweldige tol van die bevolking van Venezuela. Bid vir hierdie nasie.


Bron: cbn.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.