-deur Karin Heydenrych | Solidariteit

10 November 2017

Flip Buys en Dirk Hermann, onderskeidelik die voorsitter en bestuurshoof van Solidariteit, is albei reeds twee dekades lank verbonde aan die Solidariteit Beweging. Hierdie besondere mylpaal word gevier met ’n bundel, Vat jou goed en bou! Twintig jaar van Solidariteit, wat vroeg in November bekend gestel word. Die boek bevat ’n keur van hul artikels en bydraes wat in die afgelope paar jaar verskyn het.

Die eerste afdeling is inderwaarheid ’n historiese oorsig. Buys en Hermann vertel hoe hulle betrokke geraak het by die Beweging wat in 1902 as ’n vakbond ontstaan het. Kenmerkend van daardie beginjare is die skeppende energie waarmee krisisse en struikelblokke telkens oorkom is. Daar is heel gepas ook ’n bydrae oor Melinda Janse van Rensburg, wat 28 jaar gelede as jong tikster by die destydse Mynwerkersunie begin werk het en reeds vir baie jare Flip Buys se persoonlike assistent is.

Die tweede deel van die boek is volgens verskillende hooftemas ingedeel. Gewigtige sake soos taal, identiteit, onderwys en misdaad word onder meer bespreek. Daar word verduidelik wat oikofobie, oikofilia en Zumafikasie is. ’n Interessante kykie agter die skerms word ook gegee tydens Solidariteit se besoek aan die Verenigde Nasies om regstellende aksie in die werkplek onder hul aandag te bring.

Dit is reeds talle kere bewys dat die krag van die individu sterker as die mag van die staat is. Daarom doen hulle ’n beroep op almal om verby die doodloopstrate te kyk en saam te werk vir ’n beter toekoms waar ons vry, veilig en voorspoedig kan wees.

Vat jou goed en bou! is deur Kraal Uitgewers uitgegee en is beskikbaar by die uitgewer se boekwinkel en e-winkel (www.kraaluitgewers.co.za).


 

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.