-deur Joseph Hartropp

4 September 2017

Kakaobone wat deur ‘n boer van Vanuatu, ‘n eiland in die Stille Oseaan, geproduseer word, is onder die wêreld se top-50 aangewys, en is genomineer vir ‘n internasionale kakaotoekenning. Die boer is opgelei deur ‘n ekonomiese ontwikkelingsprogram van World Vision, ʼn Christelike internasionale liefdadigheidorganisasie.

Moli se kakaobone is aangewys as een van die top-50-produseerders ter wêreld. George Moli (44) het gesê hy is oorstelp van vreugde en het die Here gedank toe hy hoor sy bone is deur die befaamde Cocoa of Excellence-program gekies, wat monsters van meer as 40 lande beoordeel het. Hy voel nou toegerus om voort te gaan met sy harde werk.

“Voorheen het ek afhanklik gevoel van ander vir my oorlewing, maar nou is ek selfstandig.”

Moli is deur World Vision se Sanma Community Economic Development (SCED)-projek opgelei, wat boere help om die gehalte en kwantiteit van hulle gewasse te verbeter.

“Verlede jaar het ek 100 kakaobome in my plantasie gesnoei. Vanjaar het ek 270 bome gesnoei en verwag ek ‘n groter oes…Dit is die resultate van die projek. Dít is volhoubaarheid.”

Moli se vrou, Monique, het gesê World Vision se werk en haar man se daaropvolgende sukses beteken dat hulle kinders se skoolgeld nou maklik betaal kan word. “Ons lewe sou nie so gewees het as dit nie vir hierdie projek was nie,” het sy gesê. “Die kakao-inkomste voorsien aan ons daaglikse behoeftes.”


Bron: christiantoday.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.