-deur Donnelly McCleland

13 Maart 2019

Op Sondag 10 Maart het gevegte in Jemen se belangrikste hawestad, Hodeida, uitgebreek. Dit is die eerste beduidende gevegte sedert strydende partye in Desember ooreengekom het op ’n wapenstilstand wat deur die Verenigde Nasies (VN) bemiddel is. Die Sjiïtiese Houthi-rebelle, wat die stad beset, sowel as die regeringsgesteunde troepe wat hulle teenstaan, het versperrings opgerig en loopgrawe gegrawe. Die gevegte vind plaas dae ná die internasionaal erkende Jemenitiese regering en hul bondgenote, Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate, die Houthi-rebellevegters daarvan beskuldig het dat hulle die wapenstilstand verbreek en geweier het om hul troepe uit die stad te onttrek in ooreenstemming met die Desember-ooreenkoms.

Volgens die ooreenkoms was die plaaslike owerhede en die polisie veronderstel om, onder toesig van die VN, in beheer te wees van die stad en sy drie hawens, nadat albei kante hul vegters onttrek het. Beide partye het ook ooreengekom om gevangenes uit te ruil, maar nie een van dié punte is tot dusver geïmplementeer nie.

Ondanks die Hodeida-ooreenkoms, wat in Swede onderteken is, duur gevegte ook in ander dele van die land voort. Dit het ook Sondag toegeneem, met amptenare wat hewige gevegte tussen die rebelle en pro-regeringstamme in die Hajjah-provinsie se Kasher-gebied aangemeld het, waar die Houthi’s na bewering, met behulp van swaargeskut, beheer oor die stad Abaysa geneem het en honderde burgerlikes in paniek op die vlug geslaan het.

Die Britse minister van buitelandse sake, Jeremy Hunt, het op 3 Maart gewaarsku dat die vredesproses in die oorloggeteisterde Hodeida “binne weke kan doodloop” as beide kante nie groter en meer toegewyde pogings aanwend nie. Maar die uurglas loop reeds leeg vir baie mense namate hongersnood en siekte toeneem. Met ’n verbrokkelende ekonomie en infrastruktuur is miljoene sonder basiese noodsaaklikhede soos skuiling, mediese hulp, kos en skoon water. Die VN het pas – ná ’n ses maande lange vertraging – toegang tot die Rooisee-meules in Hodeida verkry wat genoeg graan het om 3,7 miljoen mense vir ’n maand te voed.

Bid asseblief saam met ons vir die omstandighede in Jemen.


Bron: Artikel verskaf deur INcontext International

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.