-deur Amanda Borschel-Dan

31 Mei 2018

’n Letsel aan ’n voet van ’n skelet wat 2000 jaar oud is en in ’n Romeinse begraafplaas in Noord-Italië ontdek is, is ’n seldsame tasbare bewys van kruisiging, volgens ’n span Italiaanse navorsers.

Alhoewel daarna verwys word in historiese geskrifte – insluitend die Nuwe Testament –  is dit slegs die tweede argeologiese bewys van dié besonder wrede vorm van doodstraf wat deur die Romeine toegepas is.

Die bevindinge – gepubliseer in die April 2018-uitgawe van die tydskrif, Archaeological and Anthropological Sciences, onder die titel, “A multidisciplinary study of calcaneal trauma in Roman Italy: a possible case of crucifixion? – is gebaseer op nuwe ontleding van ’n skelet wat in 2007 ontdek is tydens die herwinning van ’n geïsoleerde graf.

“In die spesifieke geval kon ons tekens op die skelet uitken wat dui op geweld soortgelyk aan kruisiging,” het mede-outeur, Emanuela Gualdi, van die Universiteit van Ferrara aan die Italiaanse koerant, Estense, gesê.

“Die belang van die ontdekking lê in die feit dat dit die tweede geval in die wêreld is wat gedokumenteer word,” het mede-outeur Ursula Thun Hohenstein aan Estense gesê.

“Hoewel hierdie brutale teregstelling vir ’n lang tyd deur die Romeine beoefen en vervolmaak is, het die uitdaging om beskadigde bene te bewaar en om die trauma op die bene te interpreteer, die herkenning van kruisigingslagoffers belemmer. Dit maak hierdie ontdekking uiters belangrik,” het Thun Hohenstein gesê.

Die enigste ander argeologiese bewyse hiervan, kom uit ’n opgrawing in 1968 in Jerusalem, wat deur Vassilios Tzaferis gedoen is, toe die grafte van ’n groot Joodse begraafplaas (2de eeu v.C. tot 70 n.C.) opgegrawe is.

Byskrif: Bewys van ’n  kruisiging: Die hakbeen en die spyker uit die ossuarium van Yehohanan, wat in 1968 in Jerusalem ontdek is. Fotograaf: Ilan Shtulman

Op die hakbeen van een skelet is ’n 18 cm-spyker ontdek waaraan daar 1 tot 2 cm olyfhout gevind is – oorblyfsels van die kruis waarop hy gehang is, het die navorsers afgelei.

Byskrif: Foto van die skelet wat in Noord-Italië aangetref is.

Bewyse van ’n potensiële kruisiging word slegs op die regterhak gevind. Die navorsers skryf dat hulle ’n letsel waargeneem het wat deur die “hele breedte” van die hakbeen gegaan het. Met ander woorde, die hak is moontlik op ’n harde oppervlak vasgespyker.


Lees die volledige berig by timesofisrael.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.