-deur Cip.nl

21 Junie 2018

Twee Protestantse kerke wat sedert November deur die regering gesluit is, is toegelaat om hul deure weer oop te maak, het die Algerynse koerant El Watan berig. “Ons is bly dat dit gebeur het,” sê Joyce van de Veen, hoof van die Nederlandse Bybelgenootskap (NBG). “Maar om Bybels in te voer bly problematies.”

Die heropende kerke in Bouisseville en Oran is ’n paar maande gelede gesluit. ’n Derde kerk wat ook gesluit is, is steeds toe. Die kerk van Bouisseville is daarvan aangekla dat hy hom skuldig gemaak het aan proselitisme (sendingwerk) deur die Bybel in verskillende tale uit te gee. ’n Winkel met ’n kopieermasjien is ook gesluit. Die twee ander kerke is gesluit omdat hulle blykbaar nie toestemming van die regering gehad het nie.

Aan die begin van April het die algemene sekretaris van die Algerynse Bybelgenootskap, Ali Khidri,  alarm gemaak oor die opposisie wat Christene van die regering moes verduur. ’n Maand vroeër het die Protestantse Kerk in Algerië ook sy besorgdheid uitgespreek. Amptelik is daar ongeveer 40 000 Protestante en 100 000 Katolieke in Algerië. Maar volgens ’n opname deur godsdienswetenskaplikes gedoen is en die bevindinge in 2015 in die interdissiplinêre tydskrif, Journal of Research, gepubliseer het, is daar sowat 380 000 Algeriërs wat hulle tot die Christendom bekeer het.

As gevolg van die negatiewe publisiteit in die Westerse media, is die twee kerke heropen. “Verlede week het ek  met Ali Khidri gepraat,” sê van de Veen. “Hy sê dat daar ’n reuse-aanvraag na Bybels in Berbers is, maar dat daardie Bybels juis nie ingevoer mag word nie. Ons hoop dat die publisiteit ook sal help om die probleme van die Algerynse Bybelgenootskap op te los.”

Die Berberse taal, is ’n tak van die Afro-Asiatiese taalfamilie en is ’n dialek wat deur die Berbers gepraat word wat inheems is aan Noord-Afrika.

Die Algerynse Bybelgenootskap probeer vir meer as ’n jaar al om toestemming te kry om Bybels in te voer. Daar is wel ’n permit toegestaan, maar die Bybelgenootskap het dit nie aanvaar nie weens die streng beperkings en te klein omset wat toegelaat sou word. Voorheen kon allerlei soorte Bybels ingevoer word, maar volgens die nuwe permit mag Berberse Bybels nie ingevoer word nie.


Bron: cip.nl

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.