-deur Lourieke Haller

7 Februarie 2018

“Selfs al is jy nie ʼn Christen nie, moet jy erken dat daar iets aan die gang is in Kaapstad,” het Angus Buchan gister tydens ʼn persvergadering oor die komende It’s Time Kaapstad gesê. Hoewel die evangelis gesê het God is kwaad oor die onreg en sonde in Kaapstad; dat Hy het genoeg gehad van die moord en doodslag, die bendegeweld, die mishandeling en misbruik van vroue en kinders, die hoogmoed, die groot gaping tussen die superrykes en die armstes, het Buchan dit ook beklemtoon dat dit die land as geheel is wat steeds in die moeilikheid is en dat God se kinders hulle moet verootmoedig en vir die land bid.

Hy het verwys na die “groen droogte” wat in landboukring bespreek word, met verwysing na die groen landerye en plantegroei wat dit laat lyk asof daar genoeg water is, maar dat droë grondtoestande heers. Hy het egter ook erkenning gegee aan die positiewe tekens wat daar is ten opsigte van korrupsie wat toenemend sedert It’s Time Bloemfontein aan die lig gekom het en ʼn besliste verandering in die politieke klimaat, asook die versterking van die rand.

Buchan het dit duidelik gemaak dat It’s Time weer eens ʼn nasionale gebedsdag sal wees, nie ʼn evangelisasiebyeenkoms nie. Dit is ook nie net gemik op Mitchells Plein (waar dit aangebied sal word nie), maar dat dit ʼn gebedsdag vir die hele Wes-Kaap en die hele land sal wees. Hy het weereens beklemtoon dat dit nie oor hom gaan nie, nie oor enige kerk, bediening of mens nie, “dit is God se geleentheid, dit is nie ʼn vermaaklikheidskonsert nie,” het hy gesê.

Met verwysing na die teisterende droogte in die Wes-Kaap het Buchan vertel hoe boere in Australië die probleem oorkom om hulle beeste oor reuse-afstande op hulle plase bymekaar kry. “Dit sou hulle weke neem, selfs met helikopters, maar in die ‘outback’ draai hulle bloot die water toevoer toe. Die dors beeste baan dan self hulle weg na die versamelpunt waar die water is. Mense, God wil ons aandag hê, Hy is die een wat reën skenk, Hy is die een wat die droogte gebruik om ons aandag te kry, ons moet ons ore oopmaak en hoor!” het Buchan gesê.

“John Wesley het gesê: ’Revival is when a people is saturated with God’. God is going to first saturate us spiritually, then physcially with rain. It will rain out of season so that people will know it is God,” het Buchan verklaar.

Tydens It’s Time Bloemfontein het die organiseerders  R40 miljoen hanteer: “ Elke sent is bestee  aan die byeenkoms,” het Buchan gesê. Die verwagting is dat God weer in mense se harte sal werk om aan die behoeftes van It’s Time Kaapstad sal voorsien. Volgens die organiseerders is voorbereidings goed op dreef, maar daar word nog toilette  asook tweerigtingradio’s benodig. “Enige donasies of hulp van watter aard ook al –  soos God dit op jou hart lê, is welkom,” het Hardus Zevenster, die uitvoerende hoof van Tygerberg 104fm gesê.

Toe die span van Tygerberg 104fm verlede week by die Swartklip Sportterrein gaan bid en voorbidding doen het in aanloop tot It’s Time Kaapstad, het dit begin reën. Die reën het voortgeduur totdat hulle klaar gebid het. Volgens Sedrick Taljaard, van Tygerberg 104fm, is dit ’n teken van wat God gaan doen op 24 Maart. Kyk hier na die video (ons vra omverskoning vir die swak klankkwaliteit)

Zevenster het mense aangemoedig om nie bang te wees om na die Kaapse Vlakte te kom nie, “veiligheidsmaatreëls is in plek en voertuie sal ook veilig wees. Kom met verwagting in jou hart, die Here gaan weer opdaag soos by It’s Time Bloemfontein,” het hy gesê.

Reëlings

It’s Time Kaapstad sal op 24 Maart 2018 by die Swartklip Sportterrein in Mitchells Plein plaasvind. Dit sal van 11:00 tot 16:00 duur. Die hekke sal om 06:00 open en Buchan sal die skare van 12:00 toespreek. Die verrigtinge behoort teen 14:00 af te sluit.

Daar sal net toiletgeriewe voorsien word. Elkeen moet sy eie kos en water saambring. Geen munisipale water sal gebruik word nie. Water sal van ander dele van die land gebring word en alle besoekers word versoek om hulle eie drinkwater, stoele, kos en sonroom saam te bring. Ouers met klein kindertjies word aangeraai om hulle selfoonnommer op hulle kind se arm te skryf. Geen gazebo’s, strandsambrele of hommeltuie (drones) sal toegelaat word nie.

Koste en verkeer

Die geleentheid is gratis en daar sal geen kommersiële aktiwiteite plaasvind nie. Gratis parkeerkaartjies met spesiale roetes na die terrein en parkering sal van 9 Februarie om 12:00 by www.itickets.com en www.angusbuchan.co.za beskikbaar wees.

Dit gaan die grootste massabyeenkoms in die geskiedenis van Kaapstad wees. Besoekers word aangeraai om van busse gebruik te maak om te verseker dat daar so min as moontlik ontwrigting van die verkeer plaasvind. Golden Arrow Busdienste sal busse beskikbaar stel teen kosprys vir die byeenkoms. Kerke kan die busse teen kosprys huur en die geleentheid as ʼn groep bywoon. Vir ʼn Bespreking kontak hulle by charterhire@gabs.co.za

Veiligheid

Meer as 2 000 vrywilligers sal veiligheidsmaatskappye, die Metro Polisie en die Suid-Afrikaanse polisie bystaan op 24 Maart.

Vir meer inligting besoek www.angusbuchan.co.za Bly op hoogte van die nuutste verwikkelinge:

Facebook: @ uncle angus

Twitter: @angusbuchan

Instagram: @angusbuchan


Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.