-deur Samuel Smith | Christian Post

1 Junie 2018

Tien mense, insluitend vroue en kinders, is in Mosambiek onthoof deur Islamitiese djihadiste, het regeringsamptenare  gesê.

Die aanval het Sondag in die dorpie, Monjane, in die provinsie Cabo Delgado plaasgevind, waar daar groot olie- en gasreserwes asook robyn- en saffierafsettings is.

Regeringsamptenare het verklaar dat minstens twee kinders en vier vroue onder dié was wat onthoof is. AFP berig dat die kinders seuns tussen 15 en 16 jaar oud was.

Inacio Dina, nasionale polisiewoordvoerder, het in Maputo gesê die verdagtes het pangas gebruik en is nog nie in hegtenis geneem nie.  Daar word nog na die verdagtes gesoek.

“Daar is tien burgers wat op ’n gruwelike wyse vermoor is,” het Dina gesê. “Ons sal die oortreders opspoor en reg laat geskied.”

Hoewel dit nie bevestig kon word nie, is die aanval vermoedelik uitgevoer deur ’n radikale Islamitiese faksie wat in die afgelope jaar ’n opstand  gelei en ander aanvalle in die provinsie geloods  het.

Die groep heet Ansar al-Sunna, maar is ook plaaslik bekend as Al-Shabab. Die groep het geen bande met die  terreurgroep met dieselfde naam in Somalië nie.

Al-Shabab word verantwoordelik gehou vir aanvalle op polisiekantore en ’n militêre pos in die dorp Mocimboa da Praia in Oktober. Die aanvalle van Oktober is vermoedelik die eerste terreuraanvalle in die land en het tot die dood van twee polisiebeamptes gelei.

Volgens die BBC, het die polisie meer as 200 mense in hegtenis geneem in verband met die reeks terreuraanvalle sedert Oktober verlede jaar.

Die aanval kom nadat die Mosambiekse parlement vroeër vandeesmaand ’n nuwe anti-terrorismewet goedgekeur het wat strenger strawwe oplê vir terreurverwante oortredings.

Byskrif: (Foto: WORLD VISION)

Bron: christianpost.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.