-deur Associated Press

3 Julie 2018

Redders het  al 12 seuns en hul sokkerafrigter laat Maandag diep in ’n gedeeltelik-oorstroomde grot in die noorde van Thailand gevind, meer as ’n week nadat hulle verdwyn het en ’n wanhopige soektog geloods is.

In ’n video wat deur die Thai-vloot uitgereik is, sit die seuns in hul sokkeruniforms op ’n droë plek in die grot bokant die water met die flitslig van ’n redder wat hulle gesigte verlig.

Die provinsiale goewerneur  van Chiang Rai, Narongsak Osatanakorn, het gesê die 13 is in die proses om gered te word, maar hy het gewaarsku dat hulle nog nie buite gevaar is nie. “Ons het hulle veilig gevind. Maar die reddingsoperasie is nie verby nie,” het hy gesê, met verwysing na die ingewikkelde proses om hulle nou uit die grot te red.

Reddingsduikers het  die grootste gedeelte van Maandag gewy aan ’n laaste poging om die verlore sokkerspelers  (11 tot 16 jaar) en hul 25-jarige afrigter op te spoor. Hulle het verdwyn toe vloede hulle op 23 Junie in die Than Luang Nang Non-grot vasgekeer het.

Anmar Mirza, ’n Amerikaanse kundige oor grotreddings, het gesê daar lê steeds baie uitdagings voor vir die redders. Hy het gesê die primêre besluit is of hulle gaan probeer om die seuns en hul afrigter te ontruim óf  vir eers net van kos en water te voorsien terwyl ander reddingsmoontlikhede ondersoek word.

“Om mense wat nie kan duik nie onder water deur ’n grot te neem, is een van die gevaarlikste situasies moontlik, selfs al is die duik relatief maklik,” het hy verduidelik.

Byskrif: ’n  Familielid glimlag nadat hy die nuus gehoor het dat die  12  vermiste seuns en hul sokkerafrigter gevind is.

Fotokrediet: AP Foto.


Bron cbn.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.