-deur Errol Naidoo

10 Augustus

President Cyril Ramaphosa se onlangse onverwagse aankondiging dat die ANC ’n wysiging van die grondwet sal ondersteun om toe te laat dat die staat beslag kan lê op privaat eiendom sonder om die eienaars te vergoed, het ’n vloedgolf internasionale en plaaslike kritiek ontketen.

Pres. Ramaphosa se aankondiging maak ’n bespotting van die proses van openbare deelname wat nog nie afgehandel is nie. Die grondwetlike hersieningskomitee het meer as 700 000 skriftelike voorleggings ontvang – onafhanklik van die duisende mondelinge voorleggings – wat nie hersien is nie.

Die voortydige aankondiging het die regerende party se desperaatheid beklemtoon om die verlore steun wat die party weens die massiewe korrupsie en wanbestuur van staatshulpbronne, terug te wen.

Die ANC se steun vir grondonteiening sonder vergoeding is suiwer polities van aard. As die regerende party werklik omgee vir die welsyn van die mense van Suid-Afrika, sou hy nie die vrylike plunder van belastingbetalers se geld en die ondergang van staatsbeheerde ondernemings toegelaat het nie.

Die wysiging van die grondwet is egter ’n lang proses en vereis ’n tweederde meerderheid in die parlement. Dit beteken dat dit nie voor die algemene verkiesing in 2019 afgehandel kan word nie.

Suid-Afrikaanse burgers wat besorgd is oor ’n gesonde ekonomie en werkskepping moet kennis neem dat die ANC- / EFF-beleid oor grondonteiening sonder vergoeding die brose Suid-Afrikaanse   ekonomie ernstig sal ondermyn.

Talle landsburgers is onregverdig van hul grond verdryf onder die apartheidstelsel. Grondrestitusie is dus ’n regverdige en noodsaaklike vereiste, maar dit moet op ’n ordelike, regverdige en billike wyse bestuur word om ekonomiese en maatskaplike stabiliteit te verseker.

Christelike kiesers kan volgende jaar ’n uiters belangrike rol speel om God se Woord gestand te doen en vir Godvresende manne en vroue van integriteit te stem wat oneerlike gewin haat.

Die aanslag op godsdiensvryheid neem toe. Die kommissie vir geslagsgelykheid het onlangs ’n geding in die hooggeregshof aanhangig gemaak teen die outonomie van kerke.

Christen-burgers kan die lot van Suid-Afrika verander deur vir die nasie in te tree en die antwoord op hul gebede te wees deur Godvresende manne en vroue in magsposisies in te stem.

Die ANC / EFF benodig ’n tweederde meerderheid om die ekonomie te vernietig. Die kiesers kan verseker dat hulle nie hierdie teiken behaal nie. Christen-burgers moet hulle netwerke gebruik om ander te waarsku.

Ek reis landswyd om Christen-burgers in te lig dat gebed, eenheid en strategiese geloof in aksie Suid-Afrika ten goede kan laat verander.

Maak vandag ’n besluit om volgens jou Bybelse waardes in 2019 te stem. Doen ook asseblief voorbidding vir Suid-Afrika. Die eenheid van gelowiges was nog van groter belang as nou in ons land se geskiedenis nie.

Bron: familypolicyinstitute.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.