-deur Billy Hallowell

19 Mei 2017

Die evangelis, Ravi Zacharias, het Qureshi se afskeid gelykgestel aan Paulus se Bybelse afskeid van die ouderlinge in Efese in Handelinge 20: 36-38.

Die beroemde Christen-apologeet, Nabeel Qureshi, voer ʼn moeilike stryd teen kanker – hy het onlangs aangekondig dat die bestralingsbehandelings misluk het. Ravi Zacharias het verwys na ʼn afskeidsgeleentheid wat hy en sy bedieningspan op 8 en 9 Mei by Atlanta, Georgia, vir Qureshi gehou het. Qureshi is ‘n spreker vir Ravi Zacharias International Ministries.

Zacharias, wat Qureshi as ’n seun beskou, het op sy webblad ’n roerende en openhartige opsomming van die afskeid neergepen en geskryf oor “die liefde, die genesing, die verdriet, die onstuitbare trane, en uiteindelik die hartlike drukkies, die gebede en die finale afskeid tydens die byeenkoms.

In sy afskeidsboodskap het Nabeel gesê: “Dankie. Ek het julle almal lief en as ek iemand dalk te na gekom het, vra ek om vergifnis. My geloof in my Verlosser is sterker as ooit en wat ook al vir my voorlê, sal ek as God se wil aanvaar. Julle sal my waarskynlik nie meer in die openbaar sien optree nie; ek groet julle almal.”

Zacharias skryf: “Hy het toe in my rigting gekyk terwyl hy sy laaste liefdevolle woorde met ons gedeel het om afskeid te neem. Ek was te diep ontroer om iets te sê.”

Zacharias het Qureshi se afskeidswoorde vergelyk met Paulus se Bybelse afskeid van die ouderlinge in Efese, soos gedokumenteer in Handelinge 20: 36-38. Hy het gesê Qureshi en ander glo dat God hom steeds kan genees, ten spyte van die dokters se prognose.

“Kan ons Here nog steeds vir Nabeel genees? Ja,” het Zacharias geskryf. “Met sy bekende breë glimlag het hy [Nabeel] self gesê: ‘Ja, Hy kan, selfs nadat ek reeds drie dae in die grond is.’ “

Zacharias het ook ’n roerende boodskap vir Qureshi gehad, en gesê dat hy hartseer is om te sien dat sy vriend die wêreld moontlik op so ʼn jong ouderdom kan verlaat.

“Ons is nog steeds vasgevang deur die vrese van die lewe in ‘n wêreld wat in haat gedompel is en vir materiële gewin, hebsug, trots en geweld leef,” het hy geskryf. “Jy sal bevry word tot die vreugde van die lewe waar daar geen vrese meer is nie, geen trane meer nie, geen haat meer of bloedvergieting nie, want jy sal by die Een wees wat reeds Sy bloed vir jou uitgestort het, waar liefde die heers, genade oorvloedig is, en volmaakte vreugde van die siel te vinde is. God se glimlag wag op jou: ‘Welgedaan.’”


Bron: breakingchristiannews.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.