-deur Donnelly McCleland

9 Januarie 2019

In die vroeë oggendure van Maandag 7 Januarie het junior militêre offisiere in Gaboen (in Sentraal-Afrika) ’n oënskynlike staatsgreeppoging uitgevoer deur die staatsradiostasie te kaap en hul ontevredenheid met pres. Ali Bongo uit te spreek. Die president herstel sedert Oktober in Marokko ná ’n beroerte.

Volgens ’n regeringswoordvoerder is die vrede spoedig herstel. Die offisiere beweer hulle wou “demokrasie herstel” in die olieryke Gaboen, waar die siek leier se familie reeds vir 50 jaar regeer. Die staatsgreeppoging dui op toenemende ontevredenheid in ’n nasie wat bekend was vir sy stabiliteit.

Volgens die Wêreldbank woon ’n derde van die bevolking in armoede ondanks sy olierykdom. Pres. Bongo is aan bewind sedert hy sy pa Omar opgevolg het, wat in 2009 oorlede is. Sy herverkiesing in 2016 het skermutselings tussen betogers en die polisie ontketen, waartydens die parlement aan die brand gesteek is. Luitenant Obiang het na die geweld in 2016 verwys, toe hy in ’n verklaring gesê het die staatsgreep teiken “dié wat op ’n lafhartige manier ons jong landgenote vermoor het.”

Pres. Donald Trump het soldate na Gaboen ontplooi om Amerikaanse burgers te beskerm weens gewelddadige betogings in die naburige Demokratiese Republiek van die Kongo ná afloop van die presidensiële verkiesing aan die einde van Desember.

Byna 80% van Gaboen se bevolking beskou hulself as Christene (meer as 40% Rooms-Katoliek en ongeveer 13% Evangelies), hoewel baie hulle Christelike geloof met tradisionele (animistiese) oortuigings kombineer. Daar is ’n klein persentasie Moslems (ongeveer 6% van die bevolking). Die grondwet maak voorsiening vir godsdiensvryheid en oor die algemeen respekteer die regering hierdie reg in die praktyk.

Bid asseblief saam met ons vir Gaboen.

“Gebed – hoewel dikwels uitmergelend, selfs ’n pynlike proses – is dit op die langtermyn die grootste moontlike bron van krag.” (Timothy Keller)


Bron: incontextministriesinternational.org

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.