-deur Solidariteit

5 Maart 2018

Die vakbond Solidariteit het verlede week gesê dat dit lyk of die ANC sy brood aan albei kante wil botter met dié dat hy beide beleggersvertroue wil inboesem deur die verandering in byvoorbeeld die tesourie en gerusstellende praatjies by Davos, terwyl hy met dieselfde entoesiasme onteiening van grond sonder vergoeding voorstaan. Dit volg nadat die party verlede week die EFF se mosie rakende hierdie sensitiewe kwessie gesteun het.

“Hierdie kwessie dien as ontnugtering en bring In einde aan die Ramaforie. Dit is duidelik dat alhoewel Cyril Ramaphosa president van die land is, hy in die eerste plek president van die ANC is. Indien onteiening sonder vergoeding voortgaan, het ons net die kaptein op die Titanic vervang,” het Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, gesê.

Volgens Mulder is dit verregaande om te veronderstel dat enige buitelandse belegger hier in eiendom sal kom belê indien daardie eiendom bloot deur die regering gevat kan word. “Private eiendomsreg is die grondslag van enige suksesvolle ekonomie. Ten einde ons groot werkloosheidsprobleem aan te pak en ekonomiese groei te ontsluit, moet die regering veel eerder die privaat sektor bemagtig in plaas van onteien,” het Mulder gesê.

“Wat besonder onrusbarend is, is dat die ANC In EFF-mosie ondersteun het. Die EFF is bekend daarvoor dat hulle nasionalisering voorstaan en Suid-Afrika in Venezuela wil omskep,” het Mulder gewaarsku.
Die EFF-mosie rondom onteiening sonder vergoeding sluit aan by die ANC se beleidsbesluit in Desember.

“Die mosie raak nie slegs landbougrond nie; dit raak alle privaat eiendom – dit is ʼn gevaarlike presedent om te skep. Selfs al sou die kwalifiserende klousules van finansiële stabiliteit en voedselsekerheid bykom, gaan dit nie die vertroue inboesem om kapitaaluitvloei te stuit nie. Die idee dat die regering grond in bewaring moet neem, is de facto kommunisme en gaan dieselfde gevolge hê,” het Mulder verduidelik.

“Ten spyte van beloftes rondom ekonomiese groei, is hierdie mosie ʼn besliste dwarsklap vir beleggingsvertroue. Ná die kabinetskommeling het president Ramaphosa laat blyk dat hy ernstig is oor die ekonomie, maar hierdie mosie ondermyn daardie sentiment,” het Mulder afgesluit.

https://solidariteit.co.za/anc-kan-nie-beleggersvertroue-sowel-onteiening-sonder-vergoeding-kry-nie/

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.