Deur Solidariteit

2 November 2017

Die vakbond Solidariteit het vandag ʼn veldtog, #VirSkole, geloods waarin hy die publiek aanmoedig om hul insette op die Wysigingswetsontwerp op die Skolewet te lewer. Dié wetsontwerp wat op 13 Oktober deur die minister van basiese onderwys aangekondig is, bevat uiters kommerwekkende klousules wat in praktyk die regte van ondermeer ouers, onderwysers en beheerliggame gaan inperk en skole totaal onder die staat se beheer gaan plaas.

Volgens Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, is dit kommerwekkend om te verneem dat indien die wetsontwerp aanvaar word, beheerliggame nie meer ’n keuse sal kan uitoefen oor watter onderwysers aangestel word nie omrede die aanstellingsproses voortaan onderhewig sal wees aan regulasies en voorskrifte wat die minister daarstel om sosiale en ekonomiese transformasie ten alle koste te bevorder. “In plaas van gehalte onderrig sal regstellende aksie en verteenwoordigendheid bó aan die lys van regulasies staan wanneer alle aanstellings óf bevorderings oorweeg word. Hierdie vlak van staatsinmenging hou ʼn besondere bedreiging vir die gehalte van onderwys in,” het Mulder gesê.

Volgens Mulder sal die onderwysdepartement die finale sê hê by watter skool kinders geplaas word. “Die hoof van die onderwysdepartement sal oor leerders se plasing in skole kan beslis. Dit sal klasgroottes en die skool se taalsamestelling beïnvloed. Die beheerliggaam sal ook nie meer besluite kan neem rakende ʼn skool se onderrigtaal, kapasiteit en toelatings nie,” het Mulder verduidelik.

Solidariteit loods nou ʼn veldtog waarin hy die publiek vra om in hul massas kommentaar op hierdie wysigingswetsontwerp te lewer. “Basiese onderwys in Suid-Afrika is reeds in ʼn staat van verval. Indien hierdie wetsontwerp goedgekeur word, staan Solidariteit gereed om dit te beveg. Dié wetsontwerp bevat die potensiaal om die hele stelsel en gevolglik die laaste suksesvolle skole in uiterse troebel waters te dompel. Ons kan nie toelaat dat dit gebeur nie,” het Mulder gesê.


Bron: solidariteit.co.za

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.