-deur Jelleke Wierenga

7 November 2018

Dit is sorgwekkend dat die parlementêre portefeuljekomitee oor vroue in die presidensie ’n beroep op die regering gedoen het om wetgewing strenger te maak en, indien nodig, kerke te sluit, sê Michael Swain, uitvoerende direkteur van FOR SA.

Dit is heeltemal onvanpas in die lig van die uitvoerige demokratiese proses wat reeds met die parlementêre portefeuljekomitee van die Departement van Koöperatiewe Regering en Tradisionele Sake (Cogta) gevoer is. Dit druis reëlreg in teen die aanbevelinge dat die godsdiensgemeenskap homself moet reguleer om misbruik en uitbuiting in die naam van godsdiens uit te skakel.

“Ons het talle oproepe van godsdiensleiers gekry wat geskok en kwaad is oor dié nuwe wending. In die lig van die verwarrende boodskappe van regeringskant is dit uiters noodsaaklik dat die ANC sy posisie duidelik uitspel,” sê mnr. Swain. “As die aanbevelinge van die vrouekomitee toegepas word, kan ons tot siens sê vir godsdiensvryheid in Suid-Afrika. Die geloofsgemeenskap het die reg om te weet of dít sy toekoms onder ’n toekomstige ANC-regering gaan wees.”

Volgens adv. Nadene Badenhorst, regsverteenwoordiger van FOR SA, het staatsregulering van godsdiens gelei tot die sluiting van talle goeie en gesonde kerke noord van ons grense. “Dit is ’n uitgemaakte saak dat staatsregulering van godsdiens ongrondwetlik, onwerkbaar en onnodig is. In plaas daarvan om die hele Kerk te straf oor die oortredings van ’n paar, behoort die staat sy aandag te wy aan die behoorlike vervolging van diegene wat landswette oortree.”

Die aanbevelinge van die vrouekomitee volg ná die verhoor van pastoor Timothy Omotoso van die Jesus Dominion International Kerk. ’n Jong lidmaat van sy kerk het in die Hooggeregshof in Port Elizabeth getuig hoe die “man van God” haar herhaaldelik verkrag en toe om genade gebid het.


Bron: forsa.org.za

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.