-deur Steve Warren / CBN

23 April 2018

Twee mans van Oos-Duitsland wie se stokperdjie dit is om metaal op te spoor,  het ʼn  “beduidende”  argeologies skat ontdek  wat moontlik aan die Deense koning Harald “Blåtand” Gormsson, beter bekend as “Harry Bloutand”, behoort het. (Die bynaam is vermoedelik omdat hy ʼn “dooie” tand gehad het wat blou verkleur het omdat die senuwee beskadig is.) Historici skryf die kerstening van Denemarke aan Bloutand toe.

René Schön en sy student, die 13-jarige Luca Malaschnitschenko, was in Januarie besig om in ‘n veld op die noordelike punt van Rügen-eiland na metaalobjekte te soek, toe die seun iets uitgegrawe het wat hulle aanvanklik gedink het, net ʼn stuk aluminium was. Dit het hulle nie lank geneem om te besef dat die artefak eintlik van silwer gemaak is nie.

Die twee het die owerhede gekontak oor hul ontdekking en is beveel om dit geheim te hou totdat die regering ‘n argeologiese span na die terrein kon stuur. Verlede naweek het staatsargeoloë die terrein begin opgegrawe en nog meer skatte ontdek, insluitende halssnoere, pêrels, borsspelde, ‘n hamer soos Thor s’n, ringe en tot 600 munte.

Volgens The Guardian kom  baie van die munte uit die tyd toe Bloutand regeer het  — van 958 tot 986 n.C. Hy het regeer oor ‘n gebied wat Denemarke, Noord-Duitsland, Suid-Swede en dele van Noorweë insluit.

Argeoloë vermoed dat die skat begrawe is gedurende die tyd toe Bloutand na Pommere gevlug het. Hy het in 987 n.C. daar gesterf.

Dit is nie die eerste Bloutand-skat wat ontdek is  nie. Goue voorwerpe, bekend as die Hiddensee-skat, is in 1873 op die Duitse eiland Hiddensee in die Oossee gevind. Die voorwerpe is vermoedelik deur Bloutand se familie besit.

Denemarke staan bekend as die eerste land in Skandinawië wat gekersten is. Bloutand het self hierdie feit verklaar in 975 n.C.  toe hy die Jelling-klip as  monument opgerig het.

Die inskripsie op die Jelling-klip lui:

“Koning Harald het beveel dat hierdie gedenksteen  opgerig moet word ter ere van  Gorm, sy vader en Thyra, sy moeder. Die Harald wat die hele Denemarke en Noorweë verower het en die Dene tot die Christendom bekeer het.”

Byskrif: Die klip met inskripsies wat opgerig is deur die Viking-koning, “Bloutand”  in 975 n.C. verklaar dat hy die Deense nasie na die Christendom gekersten het. Foto Krediet:  Jürgen Howaldt [CC BY-SA 2.0] via Wiki.


Bron: cbn.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.