-deur United with Israel

10 Augustus 2018

Eerste minister Benjamin Netanyahu het pres. Donald Trump gelukgewens oor sy besluit om sanksies teen Iran weer in te stel.

Netanyahu het Trump en die Amerikaanse regering in ’n verklaring gelukgewens vir “die belangrike besluit om sanksies teen Iran in te stel. Dit is ’n belangrike oomblik vir Israel, Amerika, die streek en vir die hele wêreld.”

Die eerste sarsie Amerikaanse sanksies teen Iran, wat met die omstrede kernooreenkoms gelig is, het Dinsdag weer in werking getree volgens ’n uitvoerende bevel wat deur Trump onderteken is en finansiële transaksies wat Amerikaanse dollars betref, Iran se motorsektor, die aankoop van kommersiële vliegtuie en metale insluitende goud teiken.

Amerikaanse sanksies wat Iran se oliesektor en sentrale bank teiken, word vroeg in November ingestel.

Die nuwe sanksies verteenwoordig “die vasberadenheid om Iran se aggressie in die streek en sy voortgesette planne om homself met kernwapens te bewapen, te bekamp,” het Netanyahu gesê.

Die ekonomiese sanksies verhoog die druk op die Islamitiese Republiek ten spyte van Europese bondgenote se protes teen die sanksies.

Netanyahu het ’n beroep op die Europese lande gedoen wat praat daaroor om Iran te stuit, om by hierdie maatreël aan te sluit. “Die tyd het aangebreek om op te hou praat en tot die daad oor te gaan en dit is presies wat Amerika gedoen het en wat Europa moet doen, ” het hy gesê.

Maandag het die hoof van die buitelandse beleid van die EU, Federica Mogherini, en die ministers van buitelandse sake van Frankryk, Duitsland en die Verenigde Koninkryk daarop aangedring dat die Iranse kernooreenkoms van 2015 “werk en sy doel vervul” om Iran se kernprogram te beperk.

Die Europese ministers het gesê die ooreenkoms in Iran is “noodsaaklik vir die veiligheid van Europa, die streek en die hele wêreld.”

Israel en die Trump-administrasie sê al vir ’n geruime tyd dat die kernooreenkoms met Iran “verskriklik” was en dat dit die Iranse regering van genoeg kontant voorsien het om konflik in die Midde-Ooste te befonds en sy globale terroriste-netwerk te ondersteun.

Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Mike Pompeo, het gesê sanksies is ’n belangrike pilaar in die Amerikaanse beleid teenoor Iran en sal van krag bly totdat die Iranse regering sy optrede radikaal verander.

“Hy moet soos ’n normale land optree. Dit is redelik eenvoudig om daaraan gehoor te gee,” het Pompeo gesê.

Amerika bestempel Iran lankal as die wêreld se vernaamste borg van terrorisme, het Pompeo gesê. Die Islamitiese Republiek kan nie verwag om soos ’n eweknie in die internasionale gemeenskap beskou te word totdat hy sulke aktiwiteite staak nie.

Hy het gesê dat daar geen bewyse is dat Iran sy gedrag verander nie en totdat dit gebeur sal sanksiesvan krag bly.

Bron: unitedwithisrael.org

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.