Iran het Saterdag ’n reusetree vorentoe gegee om sy internasionale afsondering te beëindig, toe sanksies teen die land opgehef is.

Die geskiedkundige kernooreenkoms met verskeie wêreldmagte wat in Julie gesluit is, het uiteindelik in werking getree, het AFP berig.

Iran se president Hassan Rouhani, wie se verkiesing in 2013 gehelp het om die reusediplomatieke poging vir die 14 Julie Wenen-ooreenkoms van stapel te stuur, het dit as ’n “glorieryke oorwinning” vir die “geduldige nasie van Iran” verwelkom en as ’n “nuwe hoofstuk” in Teheran se betrekkinge met die res van die wêreld beskryf.

Die dag van implementering van die ooreenkoms het aangebreek nadat die Internasionale Atoomenergie-agentskap (IAEA) se inspekteurs bevestig het dat Iran ál die maatreëls nagekom het waarop ooreengekom is.

Die hoof van buitelandse sake van die Europese Unie (EU), Federica Mogherini, wat die ses groot wêreldmoonthede verteenwoordig het, het gesê dat “multilaterale en nasionale ekonomiese en finansiële sanksies wat verband hou met Iran se kernprogram opgehef word”.

Dit sluit in sanksies teen Iran se noodsaaklike olie-uitvoere. Rouhani het ’n “jaar van voorspoed” vir sy land voorspel.

Die aankondiging is gevolg deur die nuus van uitruiling van gevangenes tussen Amerika en Iran, nóg ’n teken dat betrekkinge tussen die twee ou vyande aan die verbeter is.

Verdere stappe deur Iran sal gekombineer word met uiters noukeurige inspeksies deur die IAEA wat vir ‘n jaar lank sal duur.

Iran het nog altyd ontken dat die land kernwapens wil hê en hou vol sy kernaktiwiteite is uitsluitlik vir vreedsame redes soos die opwekking van elektrisiteit.

Die ooreenkoms het meegebring dat Amerika en Iran nou op die pad na beter betrekkinge is, 35 jaar nadat die Islamitiese rewolusie die Amerikaans-gesteunde sjah uit die kussings gelig het.

Amerika het egter nuwe sanksies teen Iranse maatskappye en individue ingestel oor ‘n onlangse ballistiese missieltoets.

Die nuwe sanksies raak 11 entiteite en individue gekoppel aan die missielprogram en sal hul gebruik van die Amerikaanse bankstelsel verhoed.


Bron: www.praag.co.za

 

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.