-deur Cherolyn Amery

4 Julie

Op Woensdag 27 Junie is daar in Soedan se hoofstad, Khartoem, op ’n “permanente” skietstilstand ooreengekom in Soedan, na gesprekke tussen president Salva Kiir en die rebelle-leier, Riek Machar (wat voorheen as Kiir se adjunk gedien het). Die skietstilstand is egter enkele ure nadat dit geïmplementeer is, verbreek. Beide partye beskuldig die ander een dat hy verantwoordelik is vir die hernude geweld.

Suid-Soedan, wat in 2011 tot stand gekom het ná hy vir onafhanklikheid van Soedan geveg het, is sedert Desember 2013 in ’n burgeroorlog gewikkel. Die oorlog het tienduisende lewens geëis, meer as vier miljoen mense ontwortel, en die ekonomie vernietig.

Ten tye van die ondertekening van die mees onlangse skietstilstand het Kiir gesê: “Dit is die dag waarna ons mense in Suid-Soedan uitgesien het en nou is dit hier.” Machar het gepraat  oor die finale “beëindiging van die oorlog”. Daar is al voorheen wapenstilstande onderteken, maar nie een het staande gebly nie en die laaste verbreking van die wapenstilstand het talle mense in wanhoop gedompel.

Saterdag (30 Junie) het die voorsitter van die Afrika-Unie, Moussa Faki Mahamat (van Tsjad) gesê: “Ons is nou gewoond daaraan dat die sleutelrolspelers in Suid-Soedan nie hul verpligtinge eerbiedig nie … die situasie is ondraaglik … Dit is tyd om op te tree, om ons verantwoordelikheid te aanvaar.” Die Verenigde Nasies het met sanksies gedreig as die twee partye nie ’n blywende oplossing vir die konflik kan vind nie.

Bid asseblief saam met ons vir Suid-Soedan – dat die leiers in staat sal wees om alle mense se beste belange op die hart te dra (en nie net dié van hulle eie stamme nie), dat God ’n blywende vrede in die land sal bewerkstellig, dat almal wat ly, hoop en genesing sal vind en dat die Suid-Soedanese Kerk aktief sal deelneem aan die vredesproses.

“God vorm die wêreld deur gebed. Hoe meer daar op aarde gebid word, hoe beter sal dit gaan op aarde; hoe sterker die magte teen die bose.” — E.M. Bounds


Bron: INcontext Ministries

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.