-deur FOR SA

10 November 2017

Op Donderdag, 9 November 2017, het Freedom of Religion South Africa (FOR SA) ‘n aansoek ingedien vir appèl teen die onlangse uitspraak van die Johannesburgse Hooggeregshof wat beslis het dat dit onwettig is vir ouers om hulle kinders met lyfstraf te tug – ongeag hoe lig of hoe goed bedoel dit is.

FOR SA se aansoek, wat versoek dat die saak na die Appèlhof in Bloemfontein verwys word, hou  slegs verband met die grondwetlike kwessie wat deur die hof oorweeg moet word, d.w.s. of redelike en matige tugtiging in ooreenstemming met die Grondwet is. Die appèl betrek nie die meriete van die pa se appèl teen sy skuldigbevinding deur die landdroshof op aanklagte van algemene aanranding nie.

FOR SA wat aanvanklik as ‘n “vriend van die hof” uitgenooi is, het verskeie aspekte van die uitspraak aangeroer. Die primêre beswaar is dat die uitspraak van die hooggeregshof ‘n regsverdediging geskrap het wat die ouer histories beskerm het teen ʼn klag van aanranding, en wat die parlement voorheen in die Kinderwet van 2005 verskans het. Dit is dus volgens FOR SA ‘n “geregtelike vergryp” deur die hof.

“Die Suid-Afrikaanse wet is baie duidelik dat die enjinkamer vir regshervorming die parlement is, nie die howe nie,” het mnr. Michael Swain, uitvoerende direkteur van FOR SA, gesê. “Daarom moet regters hulself daarvan weerhou om nie oorywerig te wees met die ontwikkeling van die wet en die rol van die parlement oorneem nie.”

FOR SA voer verder aan dat die hof verkeerd was om redelike en matige tugtiging met “mishandeling” of “geweld” teenoor kinders te vergelyk. Daar is ‘n duidelike en fundamentele verskil tussen matige tugtiging deur ‘n liefdevolle ouer in die beste belang van hul kind en fisieke geweld of mishandeling, waar die staat natuurlik  verplig is om in te gryp. Hierdie onderskeid word ook erken deur ‘n groot aantal geloofwaardige sosiaal-wetenskaplike bewyse, wat beweer dat redelike en matige tugtiging nie skadelik vir kinders is nie en waarskynlik voordelig kan wees.

Die beslissing ondermyn die regte van ouers om te besluit hoe om hulle kinders te dissiplineer. Die oordeel stel die oortuiging van ouers ter syde wat glo dat heilige tekste hulle toelaat, selfs beveel, om matige tugtiging te gebruik om hul kinders te dissiplineer. Hoewel nie alle godsdienstige ouers hierdie siening huldig nie, meng hierdie beslissing met geloofsleerstellinge in. Dit skep ‘n gevaarlike presedent aangesien die hof se beslissing godsdiensregte en –vryhede beperk.

“Die beslissing het ʼn groot openbare reaksie uitgelok – nie net van godsdienstige ouers nie, maar ook vanuit die geledere van ongelowige ouers wie se ouerlike regte en gesag nou ernstig verminder is,” het Michael Swain gesê. “FOR SA is ten gunste van opleiding en bemagtiging vir ouers, nie dat hulle gesag verminder word nie.”

FOR SA is baie bekommerd dat die beslissing goeie ouers wat hulle kinders liefhet, sal kriminaliseer. Hoewel die uitspraak uitwys dat dit nie die bedoeling is nie, is die werklikheid dat die verwydering van die verdediging van redelike tugtiging sal beteken dat enige vorm van lyfstraf van ‘n kind binne die wettige definisie van ‘n aanranding val. Michael Swain waarsku dat honderde ouers in lande soos Swede en Nieu-Seeland, waar gematigde lyfstraf verban is, in hegtenis geneem en vervolg is, met verwoestende uitwerking op die harmonie van die gesin.

FOR SA voer aan dat dit in die openbare belang sowel as in die belang van geregtigheid is, dat daar teen die uitspraak geappelleer word. Die vraag wat die hof (d.w.s. dieselfde twee regters wat die beslissing gelewer het) sal moet besluit of ‘n ander hof tot ‘n ander gevolgtrekking kan kom as die uitspraak van die hooggeregshof.

Vir meer inligting, kontak:

Michael Swain

Uitvoerende Direkteur, vir SA

E-pos: Michael.swain@forsa.org.za

Sel: 072 270 1217


 

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.