-deur Lucilia Moleko en Donnelly McCleland  / INcontext Ministries

20 Junie 2018

’n Gewelddadige Islamitiese aanval op 11 Junie 2018 in ’n dorp naby die stad Palma, Mosambiek, naby die grens met Tanzanië, het die lewens van tien mense geëis en huise is tot op die grond afgebrand. Duisende inwoners het sedert 5 Oktober 2017 voor die Islamitiese opstand in die provinsie Cabo Delgado gevlug, na nabygeleë toeriste-eilande en buurlande. Volgens die polisie is dit die eerste djihadistiese aanval in die land.

Die Islamitiese vegters is geïdentifiseer as Ahlu Sunnah Wa-Jama (vertaal as “volgelinge van die profeet”), maar wat onder die plaaslike inwoners en amptenare as “Al-Shabaab” bekend staan, alhoewel daar geen bekende verband tussen hulle en die berugte Somali-djihadistegroep met dieselfde naam is nie.

Volgens navorsers bestaan ​​die groep uit “sosiaal gemarginaliseerde jongmense sonder werk of formele onderwys” wat plaaslike Moslem-leiers verwerp het en glo dat die plaaslike gemeenskap nie die regte Islam beoefen nie. Die groep poog om ’n Islamitiese staat gegrond van Sharia-wette te stig. Lede het tot dusver messe en kapmesse gebruik in hul aanvalle, wat daarop dui dat hulle nie toegang tot vuurwapens of plofstowwe het nie.

Mosambiek se Moslems maak 18 persent van die bevolking uit, en 58 persent van hulle woon in die noordelike provinsie, Cabo Delgado. Dit het ’n florerende aardgasbedryf ter waarde van $30 miljard, maar het ook ’n hoë werkloosheidsyfer en lae onderwys- en geletterdheidsyfer.

Die regering het gereageer deur moskees en madrasse (Moslem-skole) te sluit en grootskaalse arrestasies te maak in ’n poging om die provinsie te herstel, in ooreenstemming met sy langtermyndoelstellings om die oorloggeteisterde land ekonomies en polities te stabiliseer.

Bid asseblief saam met ons vir Mosambiek, dat sy mense hierdie bedreiging doeltreffend kan hanteer en dat gelowiges draers van hoop sal wees en nie aan vrees sal toegee nie.

“Mense kan ons pleidooi verontagsaam, ons boodskap verwerp, ons argumente teenstaan, ons  haat, maar hulle is magteloos teen ons gebede.” (J. Sidlow Baxter)


 

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.